Volksraad Verkiesing Kommissie

 

VVK Grondwet

1. AANHEF

IN DIE BESEF dat daar ’n wesenlike aantal Afrikaners of Boere is wat die internasionaal-erkende reg op selfbeskikking opeis, oftewel die reg om hulleself as volks- en kultuurgroepering te regeer volgens eie kulturele norme en waardes (hierna “die Volk” genoem);

EN AANGESIEN die Volk se reg op selfbeskikking geminag word;

EN AANGESIEN ’n aantal organisasies en individue wat hulle vir die Volk se belange beywer, tydens ’n ope volksvergadering op 21 Julie 2007 te Pretoria besluit het dat ’n liggaam deur die Volk verkies moet word wat die Volk se selfbeskikking-eis op nasionale- en internasionale vlak namens die Volk kan stel en beding;

EN AANGESIEN op dieselfde vergadering besluit is dat die verkiesing van so ’n volksverteenwoordigende liggaam deur ’n struktuur gefasiliteer moet word;

EN AANGESIEN so ’n fasiliterende struktuur verkies is - met bevoegdheid om sy geledere aan te vul of andersins te wysig - tydens ’n ope opvolg-vergadering op 18 Augustus 2007 te Pretoria, en as die “Volksraad Verkiesing Kommissie” as sulks begin opereer;

NOU DERHALWE verklaar ons, die eerste verkose lede van die Volksraad Verkiesing Kommissie, die Grondwet van die Kommissie as volg: 

2. NAAM

2.1. Die Kommissie met bogenoemde mandaat, heet die Volksraad Verkiesing Kommissie (hierna “die Kommissie” genoem) en die liggaam van volksverteenwoordigers wat verkies staan te word, sal bekend staan as die Volksraad.

2.2. In verkorte vorm heet die Kommissie die “VVK”. Slegs in dokumentasie deur die VVK self opgestel, sal die verkorte vorm “die Kommissie” ook geldig wees.

2.3. Die vertaalde vorme van die Kommissie se naam sal wees ooreenkomstig besluite van die Kommissie in hierdie verband soos van tyd tot tyd geneem mag word.

3. BEGINSELS, DOELSTELLINGS EN PROGRAM

3.1. Die Kommissie se beginsels, doelstellings en program word uiteengesit in Bylaag 1 hiertoe wat deur die eerste verkose lede van die VVK onderteken is en getiteld is “Die Volksraad Verkiesing Kommissie: 33 artikels van Beginsels, Doelstelling en Program”. Genoemde Bylaag 1 vorm vir alle doeleindes ‘n integrale deel van hierdie Grondwet.

3.2. Die Kommissie behou diskresie tot die formulering van genoemde Bylaag 1, alle verdere Bylae hiertoe, asook enige moontlike opvolg-dokumentasie wat in al voorgenoemde opsigte uitgereik mag word. Hierdie diskresie is slegs onderhewig aan die beginsel dat die Kommissie nooit mag handel op ‘n wyse wat strydig is met sy mandaat, naamlik die besluit om ‘n Volksraad te laat verkies soos voormeld, of andersins strydig is met die Volk se reg op selfbeskikking en onafhanklikheid nie.

4. KODE VAN OPTREDE

4.1. Alle persone wat by die werksaamhede van die Kommissie betrokke is en elkeen wat as kieser registreer, sal onderhewig wees aan die bepalings van die Kode van Optrede en gedrag welke hierby aangeheg word as Bylaag 2 en vir alle doeleindes ’n integrale deel van hierdie Grondwet vorm.

4.2. Hierdie Grondwet, tesame met Bylaag 1 en Bylaag 2 daartoe word hierin na verwys as “die Stigtingsdokumente”.

5. EMBLEEM

Die embleem van die Volksraad Verkiesing Kommissie is ’n grafiese vereenvoudiging van die beeldewerk opgerig ter gedagtenis aan die Vrede van Vereeniging teen die agtergrond van die vierkleur groen, oranje, wit en blou soos volledig vervat ’n Bylaag 3 hiertoe; welke bylaag deur die eerste verkose lede van die Kommissie onderteken is en vir alle doeleindes ’n integrale deel van hierdie Grondwet vorm. Geen ander embleem sal deur of namens die Kommissie gevoer word nie.

6. SAMESTELLING, PLIGTE EN INTERNE VERHOUDINGE

6.1. Die Kommissie bestaan uit ’n Sentrale Komitee, Kiesstreekrade en Kiesafdelingrade. Daarbenewens kan die Sentrale Komitee werkgroepe met spesifieke take aanstel soos van tyd tot tyd nodig of dienstig blyk te wees ter uitvoering van die Kommissie se mandaat. Die Sentrale Komitee is gemagtig om enige handeling uit te voer soos nodig of dienstig mag blyk te wees ten einde uitvoering te gee aan die Kommissie se mandaat, naamlik fasilitering van die verkiesing van ’n Volksraad.

6.2. Die samestelling van die Sentrale Komitee wat die werksaamhede van die Kommissie inisieer, spruit voort uit die verkiesing van ’n fasiliterende liggaam op 18 Augustus 2007 soos voormeld en bestaan uit ’n Voorsitter, Adjunk-Voorsitter, Sekretaris, Rentmeester, Griffier en soveel addisionele Lede as wat die Sentrale Komitee van tyd tot tyd mag koöpteer ooreenkomstig behoefte. Die Voorsitter, Adjunk-Voorsitter en minstens een verdere Lid van die Sentrale Komitee (synde enige ander Lid daarvan) tree op as Dagbestuur en vervul take soos hieronder genoem.

6.3. Geen regspersoon of ’n natuurlike persoon in sy- of haar hoedanigheid as deel van enige regspersoon, sal deel van die Kommissie uitmaak nie.

6.4. Die Voorsitter, bygestaan deur die ander lede van die Sentrale Komitee, behartig die leiding en koördinering van die Kommissie se werksaamhede en tree op as enigste gemagtigde woordvoerder en spreekbuis van die Kommissie. Die Voorsitter kan enige van sy verantwoordelikhede aan ’n Lid van die Kommissie delegeer soos besluit op ’n vergadering van die Sentrale Komitee.

6.5. Geen handeling of uitspraak word namens die Kommissie onderneem of gemaak, of sal die Kommissie op enige wyse bind of ten laste gelê word, buiten dit wat vooraf op ’n vergadering van die Sentrale Komitee goedgekeur is nie. Besluite van die Sentrale Komitee sal slegs as sodanig erken word indien dit vervat word in ’n notule of ander dokument wat onderteken is deur al die lede daarvan of minstens deur die Dagbestuur.

6.6. Die lede van die Sentrale Komitee sal slegs deur volmag van ’n mede-lid van die Sentrale Komitee, op vergaderings van laasgenoemde verteenwoordig kan word. ’n Kworum sal deur die Dagbestuur daargestel word.

6.7. Die Adjunk-Voorsitter staan die Voorsitter in sy verantwoordelikhede by; en tree in plek van die Voorsitter op indien dit vir enige rede onmoontlik vir laasgenoemde is om sy werksaamhede uit te voer.

6.8. Die Sekretaris behartig oorhoofse administratiewe take ten bate van die Kommissie, soos besluit op vergaderings van die Sentrale Komitee.

6.9. Die Griffier hanteer agendas en notules van die Kommissie.

6.10. Die Rentmeester in samewerking met die Voorsitter, is verantwoordelik vir hantering van die Kommissie se fondse ooreenkomstig besluite van die Sentrale Komitee in hierdie verband van tyd tot tyd.

6.11. Die pligte van die Rentmeester behels meer spesifiek:

6.11.1. Hantering van die Kommissie se fondse ooreenkomstig algemeen aanvaarde rekeningkundige praktyk; insluitende (maar nie daartoe beperk nie) die uitreiking, ontvangs en bewaring (vir minstens vyf jaar) van brondokumente ten opsigte van iedere verwisseling van geld waarby die Kommissie betrokke is; die rekeningkundige optekening van alle transaksies; en ondertekening (tesame met die Voorsitter van die Sentrale Komitee) van die Kommissie se tjekvorms. Behalwe waar anders besluit deur die Sentrale Komitee, sal geen betaling deur die Kommissie anders as per tjek geskied nie, en sal ’n tjekbetaling altyd die naam van die begunstigde aandui.

6.11.2. Opdraggewing aan ’n rekeningkundige beampte vir opstelling van die Kommissie se finansiële state (Inkomste- en Uitgawestaat en Balansstaat) een maal per jaar teen finansiële jaareinde op 28 Februarie elke jaar.

6.11.3. Indien en ooreenkomstig die Sentrale Komitee se besluit, sal die Rentmeester alle samewerking verleen aan enigiemand belas met ’n oudit van die Kommissie se finansies. Die rekeningkundige rekords sal te enige tyd vir insae beskikbaar gestel word aan ’n skenker as belanghebbende persoon.

6.11.4. Die Rentmeester sien toe tot deponering van alle fondse deur of ten behoewe van die Kommissie ontvang, in ’n bankrekening of andersins soos bepaal deur die Sentrale Komitee. Geen fondse word ten bate van die Kommissie deur ’n Kiesstreekraad, Kiesafdelingraad of enigiemand anders ontvang nie - dit word slegs deur die Sentrale Komitee ontvang. Die Sentrale Komitee ken fondse aan Kiesstreekrade, Kiesafdelingrade en ander strukture en projekte van die Kommissie toe ooreenkomstig behoefte en soos van tyd tot tyd deur die Sentrale Komitee besluit mag word.

6.12. Die Sentrale Komitee identifiseer persone wat versoek word om op Kiesstreekrade en Kiesafdelingrade te dien. Ooreenkomstig besluite van die Sentrale Komitee van tyd tot tyd, sal Kiesstreekrade die Sentrale Komitee behulpsaam wees om die Kommissie se werksaamhede op streek-vlak uit te voer, en sal Kiesafdelingrade die Sentrale Komitee behulpsaam wees om sy werksaamhede op plaaslike- (distriks) vlak uit te voer.

6.13. Die Sentrale Komitee is verantwoordelik vir die oorhoofse bestuur van Kiesstreekrade en Kiesafdelingrade; welke rade te alle tye onderhewig is aan die Stigtingsdokumente en die besluite van die Sentrale Komitee.

6.14. Ter administrering van Kiesstreekrade se werksaamhede word die Sentrale Komitee, ooreenkomstig sy besluite in enige spesifieke geval, bygestaan deur ’n Kiesstreekraad-Voorsitter; -Adjunk Voorsitter; Kiesstreekraad-sekretaris en -griffier.

6.15. Ter administrering van Kiesafdelingrade se werksaamhede word die Sentrale Komitee, ooreenkomstig sy besluite in enige spesifieke geval, bygestaan deur ’n Kiesafdelingraad-Voorsitter; -Adjunk Voorsitter; Kiesafdelingraad-sekretaris en -griffier.

6.16. Waar moontlik vergader die Sentrale Komitee minstens eenmaal per week; synde die gereelde sittings. Buitengewone sittings sal deur lede van die Sentrale Komitee belê kan word soos en wanneer nodig. Laasgenoemde moet geskied by wyse van skriftelike kennisgewing aan die ander lede.

6.17. Enige lid van die Sentrale Komitee kan ’n besprekingspunt op ’n sakelys van ’n voorgenome vergadering plaas.

6.18. Dieselfde vergader-reëlings sal ten aansien van Kiesstreekrade en Kiesafdelingrade geld, met die noodwendige aanpassings

7. REGSPERSOONLIKHEID

Die Volksraad Verkiesing Kommissie sal, in die vorm van ’n vrywillige vereniging sonder wins-oogmerk, ’n regspersoon en selfstandige draer van regte en verpligtinge daarstel; en derhalwe volkome onafhanklik van sy lede bestaan en funksioneer. Die Kommissie vrywaar alle natuurlike persone teen enige eise van welke aard ook al wat mag voortspruit uit optrede ten behoewe van die Kommissie soos vooraf deur die Sentrale Komitee daarvan goedgekeur.

8. FINANSIELE OPBRENGSTE EN LEDEGELDE

8.1. Gelde wat die Kommissie mag ontvang, sal slegs aangewend word vir doeleindes van die Kommissie se mandaat (soos hierbo uiteengesit) insluitend doeleindes wat daarmee verband hou of dit op een of ander wyse mag bevorder. Geen gelde sal by wyse van ’n dividend, as bonus, as ’n wins of op enige ander wyse aan lede van die Kommissie of enigiemand anders (hetsy regs- of natuurlike persone) oorgedra word nie.

8.2. Die bepalings van Klousule 8.1 hierbo (en elders hierin) sal egter nie die volgende verhinder nie:
8.2.1. Die terugbetaling aan enige persoon van skriftelik-bewese uitgawes aangegaan in belang van die Kommissie en goedgekeur deur die Sentrale Komitee.
8.2.2. Die betaling aan enige persoon van vergoeding soos redelikerwys vasgestel, ten aansien van goedere en/of dienste aan die Kommissie gelewer en goedgekeur deur die Sentrale Komitee.

8.3. Ter finansiering en uitvoering van sy mandaat of doeleindes wat daarmee verband hou, mag die Kommissie donasies inwin; bates ontvang en bestuur; en/of gelde vorder vanaf persone op die Kiesregister ooreenkomstig die Sentrale Komitee se besluite in hierdie verband van tyd tot tyd.

9. VRYWARING EN SKADELOOSSTELLING

9.1. Die Kommissie sal op geen wyse aanspreeklik wees vir verlies, skade of besering van welke aard ook al deur enigiemand gely nie - hetsy deur ’n funksionaris daarvan of enige derde party - ongeag die wyse waarop en deur wie sodanige verlies, skade of besering ook al mag ontstaan of gely word.

9.2. Voorgenoemde verhinder nie dat die Kommissie ’n betaling ex gratia in enige verdienstelike geval kan maak nie; die meriete daarvan al dan nie om bepaal te word deur die Sentrale Komitee.

10. WYSIGING

Hierdie Grondwet sal slegs by wyse van ’n besluit deur die Sentrale Komitee, goedgekeur deur minstens 75% van sy lede, gewysig kan word.


11. TEKS

Slegs die Afrikaanse teks van hierdie Grondwet sal uit ’n regsoogpunt die geldige en geldende teks wees.


12. ADRES

Die adres waar die Kommissie alle kennisgewings aan hom insluitend enige prosesstukke wat op hom beteken word sal aanvaar, is die fisiese adres van die Sentrale Komitee se kantoor soos van tyd tot tyd besluit per vergadering van die Sentrale Komitee.

Bylaag 1 

DIE VOLKSRAAD VERKIESING KOMMISSIE: 

33 artikels van BEGINSELS, DOELSTELLING
EN PROGRAM

Inleiding

1. In die Volkereg, wat verhoudinge reël tussen volkere en state, word die beginsel erken - en trouens van die veronderstelling uitgegaan- dat volke (klein of groot) die reg het om hulleself te regeer ooreenkomstig hulle eie waarde- en normestelsels.

2. Hierdie beginsel van selfregering oftewel “selfbeskikking” is ook vervat in talle internasionale verdrae; in die Handves van die Verenigde Nasies (VN) asook in vele “Deklarasies” wat deur die VN aangeneem is.

3. Selfs in die huidige Grondwet van Suid-Afrika word erkenning aan die beginsel verleen en word die moontlikheid daargestel vir ’n kultuurgroep wat hierdie reg opeis, om tot selfbeskikking te kom.

4. Die korrektheid van die selfbeskikking-beginsel word wêreldwyd onderstreep in moderne tye, namate dit al duideliker word dat die staat in sy huidige vorm nie ontwerp was om te voldoen, en nie kan voldoen, aan die uiteenlopende waardestelsels en behoeftes van ’n mengelmoes kulture wat in een staat vasgevang is nie.

5. Mense wat tot ’n sekere rassegroep behoort kan nooit in ras-verband (hetsy as Blankes of Swartes) aanspraak maak op selfbeskikking nie. Die internasionaal-erkende reg op selfbeskikking kleef slegs aan ’n volk.

6. ’n Volk is ’n gemeenskap van mense wat weens langdurige samewoning en ondertrouing oor ’n eiesoortige identiteit beskik, onderskeibaar van ander mense buite die volksverband.

7. Hierdie volks-identiteit bestaan uit twee terreine van gemeenskaplikheid: Eerstens ’n breë basis van gemeenskaplike afstamming; en tweedens ’n gemeenskaplike kultuur (dit wil sê ’n gemeenskaplike taal en ook ’n basiese gemeenskaplikheid van lewenswyse, norme en waardes op die ander lewensterreine).

8. Geen volk, klein of groot, bestaan outomaties voort nie. ’n Volk se voortbestaan is afhanklik van ’n kritiese minimum aantal volksgenote wat die voortbestaan daarvan wil en bereid is om daarvoor te stry en te werk.

9. Die Internasionale Geregshof (gesetel te Den Haag, Nederland) is die enigste hof wat internasionaal-bindende uitsprake kan maak oor die Volkereg, oor internasionale verdrae en die VN se beginsels. Maar, slegs ’n Regering van ’n staat kan ’n party wees in ’n Internasionale Geregshof-geding. ’n Volk wie se reg op selfbeskikking geminag word, het dus ongelukkig nie toegang tot die Internasionale Geregshof nie. Daar is egter wel ’n hele aantal alternatiewe moontlikhede waarop sulke volke hulle selfbeskikking-eis in die internasionale arena aanhangig kan maak.

10. Daar bestaan byvoorbeeld verskeie prosedures waarvolgens ’n onderdrukte volk ’n klag teen die staat wat hulle onderdruk (hetsy op politieke-, ekonomiese- of ander terreine) by die Verenigde Nasies kan lê. ’n Volk sonder selfbeskikking kan ook lid word van die Onverteenwoordigde Nasies en Volkere Organisasie (die “Unrepresented Nations and People’s Organisation” of UNPO) - ’n internasionale liggaam waarin talle volke sonder selfbeskikking verteenwoordig is; wat hom spesifiek beywer vir die belange van daardie volke; en wat reeds ’n hele aantal volke bygestaan het op hulle pad na selfregering.

11. ’n Aantal van hierdie internasionale moontlikhede het uiteraard die voorvereiste dat binnelandse moontlikhede ter opeising van die selfbeskikkingsreg eers uitgeput moet word.

12. Hierdie opsies het egter almal ’n sentrale (en logiese) veronderstelling; naamlik dat daar ’n liggaam moet bestaan wat deur die betrokke volk verkies is en wat selfbeskikking namens die volk kan eis en beding, op beide nasionale en internasionale vlak.

13. Teen hierdie agtergrond is die Volksraad Verkiesing Kommissie in die lewe geroep.


Identiteit

14. Die samestelling van volke bly nie staties nie maar verander voortdurend; nie net weens geboortes en sterftes nie maar ook omdat verbondenheid aan die gemeenskap wat ’n volk uitmaak, vrywillig is: Mense wat in ’n volk gebore is kan besluit om hulleself los te maak van daardie volk se voortbestaan om eerder aansluiting by ’n ander volk of bevolking te probeer vind. So ook kan iemand wat buite ’n sekere volk gebore is, besluit om deel daarvan te wil wees en, mits so ’n volksgemeenskap oorwegend bereid is om die mens in sy midde op te neem, sal hy of sy deel van daardie ander volk kan word. Volk bepaal dus wie volk is.

15. Met ’n kultuur-identiteit wat onderskeibaar is van enige ander volk op aarde, voldoen die Afrikaanssprekende Blankes wat aan die suidpunt van Afrika woon aan alle vereistes om as ’n volk geklassifiseer te kan word; en is as volk dus ook ’n draer van die internasionaal-erkende reg op selfbeskikking.

16. Die voorsate van hierdie volk kon reeds eeue lank ingedeel word in twee basiese denkrigtings (’n indeling wat vandag steeds voorkom); naamlik enersyds ’n deel vir wie die behoud van identiteit in ’n eie onafhanklike staat van mindere (of selfs geen) belang is nie; en andersyds ’n deel vir wie selfbeskikking lewensnoodsaaklik is en nooit onderhandelbaar is nie.

17. Eersgenoemde deel se gebrek aan ’n onafhanklikheidstrewe het nie in die verlede nie, en plaas ook nie nou, enige beletsel op die selfbeskikkingstrewe van die res nie: Diegene sonder ’n strewe na selfbeskikking laat vaar dikwels hulle volkskap uiteindelik in elk geval, en verdwyn daarmee as faktor in die hele selfbeskikking-kwessie. In ander gevalle weer word met verloop van tyd na die pro-selfbeskikking denkrigting oorbeweeg. Die belangrikste oorweging is egter dat daar nog altyd voorheen - soos ook nou - ’n kritiese massa is wat onafhanklikheid en selfbeskikking opeis; met bereidwilligheid om daarvoor te werk en duur offers daarvoor te bring.

18. Die groep wat na selfbeskikking streef was veral in die verlede onder die term “Boere” bekend en daar is verblydend genoeg nou weer ’n opeising en herlewing van die roemryke naam “Boerevolk” - die naam waaronder twee klein Republieke ter wille van selfbeskikking van 1899 tot 1902 die ganse Britse Ryk beveg het; geweldige offers daarvoor gebring het; en tot begeestering vir ons saak by die res van die wêreld gelei het.

19. In die groep wat selfbeskikking vandag nastreef, is daar egter ook steeds groot getalle mense wat hulleself as “Afrikaners” bestempel. Hierdie verskillende benamings (Boer en Afrikaner) mag nie tot tweespalt lei onder diegene wat selfbeskikking opeis nie. Daarom staan die Volksraad Verkiesing Kommissie in diens van alle volksgenote wat selfbeskikking opeis; en laat dit aan die individu oor om die volksnaam te gebruik waarmee hy of sy tevrede is.

20. Wanneer daar in geskrifte van die Volksraad Verkiesing Kommissie bloot na “die Volk” verwys word, verwys dit na al diegene wat selfbeskikking eis. Dit is geslagte lank reeds tradisie dat hierdie Volk vir hom ’n Volksraad verkies uit die individue in sy midde en nie uit politieke partye nie - ’n Volksraad waarin ons onblusbare strewe om onsself in vryheid te regeer, verteenwoordig word en die hoogste besluite in hierdie verband oor ons toekoms geneem word.

21. Sonder ’n Volksraad, wat slegs gefokus is op die kern van ons probleem en wat ons oor partyskap en kleinlike verskille heen kan verteenwoordig, kan ons niks anders verwag as die knegskap en totale verlies aan seggenskap oor onsself waarin ons nou jare reeds gedompel is nie.

22. Die feit dat ons as Blanke volk op die oorwegend Swart vasteland van Afrika woon, maak geen verskil aan ons politieke regte nie. Nie eens die eerste generasie Swartes wat na Europa emigreer, durf volgens hulleself as “setlaars” in Europa beskou word nie. Ons Volk het eeue gelede in Afrika ontstaan; is dus inheems aan Afrika en beskik daarom oor presies dieselfde regte op die vasteland van Afrika as enige ander inheemse Afrika-volk.


Doelstelling en visie

23. Die VVK se doel is om die proses te fasiliteer deur middel waarvan kandidate op demokratiese wyse tot ’n Volksraad verkies word. So ’n Volksraad sal oor ’n behoorlike mandaat beskik om die Volk se eis vir selfregering te stel en te beding by die tersaaklike nasionale- sowel as internasionale instansies.

24. Hierdie proses sal plaasvind binne die raamwerk van nasionale regsreëls saamgelees met Volkeregtelike regsreëls en internasionale verdrae.

25. ‘n Volksraad word vir ’n termyn van 3 (DRIE) jaar verkies, waarna ’n nuwe Volksraad-verkiesing deur die VVK gefasiliteer sal word.

26. Volksraad-lede sal herkiesbaar wees.

27. Omdat meerdere geskikte Volksraad-kandidate in ’n sekere geografiese gebied mag wees en min of geen geskikte kandidate in ’n ander gebied nie, word daar nie verkiesing gehou tussen twee of meer kandidate in ’n geografiese kiesafdeling nie. In stede daarvan word Volksraadslede proporsioneel verkies, wat beteken dat ’n kandidaat tot die Volksraad verkies word sodra ’n minimum aantal stemme landwyd op so ’n kandidaat verenig word.

28. Volksraadslede sal gebonde wees aan ’n ampsbelofte wat in naam van die Volk deur die VVK aan hulle voorgelê sal word by aanvaarding van die amp. Indien die oortuiging op enige stadium tydens ’n Volksraadslid se termyn ontstaan dat so ’n Lid op welke wyse ook al die selfbeskikkingstrewe ondergrawe, kan ’n mosie van wantroue ’n daardie Lid deur ’n minimum van 500 stemgeregtigdes by die VVK ingedien word. ’n Wantroue-debat waaraan enige stemgeregtigde sal mag deelneem, word dan deur die VVK belê en indien die wantroue-mosie aanvaar word deur minstens 51 persent van alle stemgeregtigde aanwesiges, skryf die VVK ’n tussenverkiesing uit om die betrokke Lid met ’n ander te vervang.

29. Sodra ’n Volksraad verkies is, het die VVK sy doelwit bereik en word dit (met uitsondering van moontlike tussenverkiesings) rustende totdat die termyn van die Volksraad verstryk het en ’n daaropvolgende Volksraad-verkiesing gehou en deur die VVK gefasiliteer moet word.

30. Behalwe vir sy verbondenheid aan een sentrale beginsel alleen, naamlik selfbeskikking vir die Volk, bemoei die VVK homself nie met denkrigtings, filosofieë, strategieë of strydvrae betreffende hoe en waar selfbeskikking verwesenlik moet word nie. ’n Volksraad word juis verkies om self besluite te neem (onderhewig aan die stem van die Volk) wat betref hoe en waar selfbeskikking verwesenlik gaan word. Dit is besluite wat sal afhang van hoeveel mense uiteindelik selfbeskikking eis; waar sulke Volksgenote oorwegend woon; die reaksie (nasionaal en internasionaal) wat mag volg sodra die selfbeskikking-eis in beginsel deur die Volksraad gestel word; en talle ander omstandighede wat nie vooruit voorsienbaar is nie.

31. Sonder om in dwepery of godsdienstige twisvrae te verval, besef die VVK die omvang van die uitdaging wat hierdie proses sal meebring en dat dit sonder ingryping en hulp van die God van die Bybel, nie moontlik sal wees nie.

32. Die roete wat gevolg word is dus die volgende:

32.1. Die VVK fasiliteer ’n verkiesing van Volksraadslede wat almal die beginsel van selfbeskikking onderskryf.

32.2. Daarna maak die verkose Volksraad namens die Volk aanspraak by die Suid-Afrikaanse Regering op die beginsel (niks meer nie) dat die Volk oor die reg beskik om homself te regeer volgens sy eie waarde- en normestelsel in ’n eie staat.

32.3. Indien die Suid-Afrikaanse Regering bereid blyk te wees, nie net om hierdie aanspraak te erken nie maar ook om beslag daaraan te gee op welke wyse ook al, tree die Volksraad met die Suid-Afrikaanse Regering in onderhandeling om ’n vreedsame skikking te bewerkstellig. Die Volksraad se beweegruimte tydens sulke onderhandeling sal bepaal word deur opdragte en mandate wat telkens vooraf deur meerderheidstem vanaf die Volk verkry sal word.

32.4. Indien die Suid-Afrikaanse Regering nie bereid blyk te wees om beslag te gee aan die aanspraak op selfregering nie hetsy vir welke rede ook al, benut die Volksraad alle beskikbare moontlikhede op internasionale vlak om die Internasionale Gemeenskap te betrek by die dispuut vir doeleindes van ’n onderhandelde skikking.

32.5. Indien die Internasionale Gemeenskap nie ingryp om ’n onderhandelde skikking te bemiddel nie, word volksvergaderings deur die Volksraad belê waartydens die Volk sal besluit wat hom te doen staan in die lig van omstandighede; en dienooreenkomstige opdragte aan die Volksraad sal uitreik.


Program

33. Om voorgenoemde te bereik, word dus die volgende stappe deur die VVK uitgevoer:

33.1. Afbakening van streke en kiesafdelings vir administratiewe doeleindes; en vestiging van regionale- en sekondêre VVK-strukture ter uitvoering van die totale proses.

33.2. Registrasie van kiesers op ’n Kiesregister deur die Registrasie Werkgroep van die VVK. ’n Voornemende kieser doen eerstens aansoek om sy of haar naam op die Kiesregister te plaas en hierdie name sal op ’n Lys van Voornemende Kiesers vir openbare insae beskikbaar wees. In so ’n aansoek verklaar die voornemende kieser dat hy of sy die beginsel van selfregering vir die Volk onderskryf. Indien die VVK se Sentrale Komitee redelikerwys vermoed dat ’n persoon so ’n verklaring valslik maak, word die betrokke aansoek om registrasie as kieser aan ’n VVK-paneel voorgelê; wat dit kan goedkeur of afkeur. Die minimum-ouderdom om as kieser te registreer is 18 jaar en ’n persoon is te enige tyd geregtig om sy naam van die Kiesregister op eie versoek te laat verwyder.

33.3. Samestelling van die Lys van Kandidate. Om as Volksraad-kandidaat te kwalifiseer sal ’n persoon deur ’n stemgeregtigde voorgestel en die kandidatuur deur minstens ’n honderd ander stemgeregtigdes gesekondeer moet wees. Die Volksraad bestaan uit 7 (sewe) setels.

33.4. Stemming vind plaas deurdat stemgeregtigdes in voorkeur-orde stem vir die kandidate van hulle keuse. Die eerste 7 kandidate met die meeste stemme sal tot die Volksraad verkies wees. Internasionale liggame met tersaaklike kennis en ondervinding word uitgenooi om as waarnemers op te tree betreffende die vry en regverdige aard van die verkiesing.

33.5. Die Volksraadslid wat die meeste stemme op hom verenig, word outomaties deur die Volk as Voorsitter en Woordvoerder van die Volksraad aangewys.

33.6. Alle kandidate neem in hulle persoonlike hoedanigheid aan die verkiesing deel en geensins in moontlike hoedanighede as lede, leiers of ander ampsdraers van politieke partye of ander organisasies nie. Dit verhoed geensins dat sulke persone as kandidate benoem kan word nie; solank hulle benoeming en verkiesing tot die Volksraad in persoonlike hoedanigheid plaasvind. Geen Volksraadslid sal aan party-dogma gemeet word nie. Volksraadslede sal direk aan- en alleenlik teenoor die Volk soos gelys op die Kiesregister, aanspreeklik wees.

33.7. Alle stemgeregtigdes verklaar hulleself vrywillig onderworpe aan die VVK se Grondwet en sy Kode van optrede en gedrag. Indien die letter of die gees van hierdie Dokument; die Grondwet of die Kode van optrede geminag word, kan so persoon deur die VVK se Sentrale Komitee van die Kiesregister verwyder word.


Slotwoord

Mag die VVK as dienaar van ons Volk se edelste ideale, grootliks bydra tot die herstel van seggenskap oor onsself. Verlies van seggenskap oor onsself het vernedering meegebring, maar ook gelei tot haglike omstandighede vir vele volksgenote op verskillende terreine. Die verkiesing van ’n Volksraad sal die geboorte inlui van ’n nuwe staat op ’n vasteland wat ruimte het vir almal wat in hom woon - ’n staat waarin ons onsself gaan regeer volgens ons eie waardes en norme; volgens ons eie standaarde van vrede; stabiliteit, voorspoed, doeltreffendheid en opleiding - in stede van ’n bankrot politieke toekoms wat op ons volgende geslagte wag.


BYLAAG 2 TOT DIE GRONDWET:
KODE VAN OPTREDE EN GEDRAG

AANHEF

Die funksionarisse van die Volksraad Verkiesing Kommissie (hierna “die Kommissie” genoem) en alle persone wat as stemgeregtigdes op ’n Kiesregister deur die Kommissie geregistreer word ter uitvoering van sy mandaat soos vervat in die res van hierdie Grondwet, is almal onderhewig aan die volgende Kode van optrede en gedrag:

1. Alle betrokkenes by die Kommissie se werksaamhede, is in hulle hoedanigheid as sulks verbonde aan een sentrale beginsel alleen; naamlik die Volk se reg om homself te regeer volgens die internasionaal-erkende reg op selfbeskikking van volke; sonder om enige ander volk of nasie te wil oorheers.

2. Behalwe vir verbondenheid aan bogenoemde sentrale beginsel alleen, word daar in die werksaamhede van die Kommissie gevolglik nie verval in strydvrae wat betref denkrigtings, filosofieë, of strategieë ten aansien van die “hoe” en “waar” van selfbeskikking nie.

3. Die Kommissie se taak is om die verkiesing van Volksraadslede op demokratiese, deursigtige, vry en regverdige wyse te fasiliteer en dit word aan so ’n verkose Volksraad oorgelaat (onderhewig aan die stem van die Volk) en met inagneming van talle omstandighede wat nie vooruit voorsienbaar is nie, om die “hoe” en “waar” van selfbeskikking namens die Volk te beding.

4. Die Kommissie besef die geweldige omvangryke uitdaging wat sy taak meebring en dat dit sonder ingryping en hulp van die God van die Bybel, nie moontlik sal wees nie. Daarmee verklaar die Kommissie homself egter nie as godsdiens-eksklusief nie en word geen Volksgenoot wat die selfbeskikking-beginsel onderskryf soos ’n hierdie Grondwet uiteengesit, van die Kommissie se werksaamhede uitgesluit nie.

5. Niemand verrig in naam van - of namens die Kommissie enige handeling wat nasionale regsreëls (met inagneming van Volkeregtelike beginsels, -reëls en verdrae) verbreek nie.

6. Niemand maak in naam van - of namens die Kommissie enige uitspraak of voer enige ander handeling aldus uit nie, behalwe insoverre vooraf deur ’n Sentrale Komitee-besluit van die Kommissie daartoe opgedra en gemagtig.

7. Elke funksionaris van die Kommissie en elke stemgeregtigde lê hom of haarself neer by die inhoud en bepalings van die Kommissie se Stigtingsdokumente; by besluite van die Kommissie se Sentrale Komitee ooreenkomstig sy Stigtingsdokumente geneem; en verdermeer by die besluite wat ’n Volksraad, soos gemagtig deur ’n Volksvergadering, mag neem.

8. Funksionarisse van die Kommissie sal deur stemgeregtigdes volgens die normale prosedure as Volksraad-kandidate genomineer kan word; maar die Kommissie sal op geen wyse die kandidatuur van sulke funksionarisse bo ander kandidature bevoordeel nie.

9. Niemand verrig enige handeling wat die beginsel van selfbeskikking soos in hierdie Grondwet omskryf, kan of sal ondergrawe nie.

10. In geval van enige dispuut tussen -enersyds- ’n funksionaris of ’n voornemende kieser of ’n stemgeregtigde; en die Kommissie andersyds, sal ’n beslissing van die Kommissie se Sentrale Komitee as bindend en finaal aanvaar word.

11. Ter bevestiging van hulle onomkeerbare verbintenis aan die verkryging van selfbeskikking vir die Volk, sal alle voorgenome Volksraadslede ’n ampsbelofte by hulle verkiesing aflê wat namens die Volk deur die Kommissie aan hulle voorgehou sal word.

12. Gefokus slegs op ’n einde aan ons onderdrukking, onderneem elkeen wat die doelwit van die Kommissie onderskryf om òòr partyskap en kleinlike verskille heen mee te werk dat die erwe van ons vadere, weer erwe vir ons wordende geslagte sal wees.

ADDENDUM 1 TOT GRONDWET:

1. Geen lid van die Sentrale Komitee sal beskikbaar wees as kandidaat in die volksverkiesing, soos gefasiliteer deur die Kommissie nie.
2. Voormelde diskwalifikasie sal van toepassing wees op enige dienende- sowel as voormalige lede.