Volksraad Verkiesing Kommissie

 

Vrae & antwoorde

1. Hoekom nog probeer om ons uit die gemors in Suid-Afrika te kry? Daar is tog niks wat ons
aan die toestand kan verander nie.

Verkeerd. ‘n Volk wat in swak omstandighede verkeer kan ALTYD iets daaraan doen,
solank daar genoeg mense is wat iets daaraan WIL doen en bereid is om opofferings te
maak deur die loop van verstandige aksies. Nêrens in die geskiedenis kon een klomp
mense dit regkry om ‘n ander klomp permanent te onderdruk nie. Die ANC sal dit ook nie
met ons regkry nie, behalwe as ons gaan aanhou om die onderdrukking soos ‘n spul
jellievisse te aanvaar.

2. Word ons werklik so erg onderdruk?

Ongeveer 30 000 Blankes is sedert 1994 in Suid-Afrika vermoor – meer as wat in Britse
konsentrasiekampe tydens die Tweede Vryheidsoorlog gesterf het. Ons waardes en
opvattings word met minagting deur die Regering vertrap in honderde van die wette en
regulasies wat elke jaar gemaak word en wat ons slaafs moet eerbiedig, terwyl baie ander
maak wat hulle wil. Ons boere word op elke moontlike manier van “rassisme” beskuldig,
uitgetart en verarm. Ons wetenskaplike en tegniese kennis het hierdie stuk Afrika omskep
van ‘n wildernis tot ‘n hoogs-ontwikkelde staat…maar die enigste reaksie daarop van die
Swart Bewind is om ons as derdeklas burgers te duld en tot satwordens oor “Apartheid”
tekere te gaan – veral as hulle ‘n gemors van iets gemaak het en ‘n sondebok daarvoor
gekry moet word. Al wanneer “ons” Regering in ons belangstel is wanneer die hewige
belastings ingevorder word of wanneer hulle in die son van die sportprestasies kan bak
wat ons vir die “reënboognasie” kan lewer. Selfs ons kinders word nie gespaar nie: Vir jare
word hulle “nie-rassigheid” geleer in ‘n Swart-beheerde onderwysopset waar standaarde
tot patetiese vlakke gedaal het. Ná skool is hulle skielik “te Wit” om dieselfde studie- of
werksgeleenthede as Swartes te kan kry. Tussendeur druk skoolleerplanne nog idees op
hulle af wat nie net vreemd aan ons aard is nie maar dikwels uit ons geloofsoortuigings
afstootlik is. Geen volk met ‘n greintjie oorlewingsdrang of selfrespek kan so ‘n geestelike
verkragting van sy kinders duld nie. Dan praat ons nog nie van die fisiese verkragting van
ons vroue nie – van klein dogtertjies en vroue wat in hulle fleur gebreek word, tot bejaarde
vroue. Die roof en martel-moorde op plase, langs paaie en in stede, op ons kinders en
weerloses maar dikwels ook op broodwinner-manne waardeur huisgesinne reddeloos en
wees gelaat word. Duisende van ons opgeleide mense word van werk en inkomste beroof
omdat werksgeleenthede en selfs besigheidskontrakte vir Swartes gereserveer word –
meestal totaal onbevoeg, dikwels boonop van verre lande af hier aangekarwei asof wit
Suid-Afrikaners die sogenaamde “onregte van die verlede” moet “herstel” van Kenia af tot
in Kuba. Dit alles skryn ten hemele en dan is daar skandelik genoeg nog wit
Afrikaanssprekendes wat ons moord, roof en verkragting probeer herstel met “vrede,
vrede!” – solank die onheil maar net hulleself soveel moontlik gespaar kan bly…

3. Maar Suid-Afrika het dan so ‘n demokratiese Grondwet sedert 1994 – kan ons nie die
Grondwet gebruik om ons te beskerm nie?

Suid-Afrika se Grondwet klink wel demokraties op papier (soos die geval met die ou
kommunistiese state se grondwette ook maar was). Die ware toets vir demokrasie lê nooit
in dit wat op papier geskryf staan nie. Mens kan net werklik praat van demokrasie wanneer
‘n Regering wat droogmaak, in die volgende verkiesing uitgestem kan word. En dit gebeur
nie in Suid-Afrika nie, want verreweg die meeste Swart Suid-Afrikaners hou aan stem vir
die ANC, maak nie saak hoe die Regering knoei nie. En ook geen wonder nie, want die
ANC (ten spyte van hulle knaende gekerm oor “rassisme”) BLY in wese ‘n Swart party wat
eksklusief Swart belange en Swart aspirasies probeer bevredig. Rassisme is in orde –
solank dit Swart rassisme is! Daarom is Suid-Afrika in praktiese terme veel eerder ‘n
diktatuur as ‘n demokrasie; en daarom sal dit ons hoegenaamd niks baat om te stem in die
rubberstempel-verkiesings wat die Regering elke paar jaar hou nie.

 4. Maar alle Suid-Afrikaners, Wit en Swart, kry tog swaar onder misdaad en ineenstorting van

dienslewering. Moet almal saam nie eerder probeer om ‘n verskil te maak nie?

Watse “verskil” gaan Swart Suid-Afrikaners maak as hulle nooit die rug op die ANC gaan

draai nie? Buitendien - “swak” dienslewering uit ‘n Blanke oogpunt, is nie noodwendig

“swak” uit ‘n Swart oogpunt nie. ‘n Teerpad vol gate is steeds beter as ‘n voetpad.

Elektrisiteit net nou en dan is steeds beter as geen krag nie. Daarom gaan Swart state in

Afrika by dosyne ten gronde weens korrupsie, misdaad en ineenstorting van dienste –

sonder dat hulle bevolkings ooit daarteen in opstand kom. Dit word uiteindelik bloot verdra

as deel van die daaglikse bestaan. En daarom sal ons aanhou om soos skape ter slagting

te gaan as ons dink “iemand” sal op ‘n stadium iets aan ons eie ellende doen net “omdat

ander darem ook onder ellende verkeer”.

5. Dalk is die oplossing om te emigreer?

Ongeveer ‘n miljoen Blankes het wel sedert 1994 uit Suid-Afrika padgegee. Dit is miskien

die beste bewys dat De Klerk en Mandela se kastige “wonderwerk vreedsame skikking”

van 1994 ons Blankes in ‘n fatale gemors gedompel het. Emigrasie werk wel vir

sommiges, maar meeste van ons se omstandighede is van so aard dat ons nie kan

emigreer nie al wil ons; en nog ander het agtergekom dat een stel probleme met emigrasie

verruil word vir ander probleme. Die punt is egter dat ons nie HOEF te emigreer nie en

ook nie die Swart Bewind met sy ellende HOEF te aanvaar nie. Want ons het ‘n

internasionaal-erkende reg, hier binne-in Afrika, en ons moet dit dringend begin uitoefen.

6. Watse reg?

Die reg op selfbeskikking.

7. Wat is selfbeskikking en waar kom hierdie reg vandaan?

Selfbeskikking is die reg van ‘n volk om homself te regeer met wette deur homself gemaak

volgens sy eie waardestelsel. Die reg word wêreldwyd erken in die Volkereg (wat

verhoudings reguleer tussen volke en state) maar ook deur die Verenigde Nasies en ander

wêreldliggame. Selfs die Suid-Afrikaanse Grondwet skep die reg vir ‘n groep mense wat

wil, om selfbeskikking in ‘n gebied binne Suid-Afrika op te eis.

8. Hoe sal ons die reg hê om wette vir onsself te maak- die hele wêreld was dan teen

Apartheid gekant?

Die buitewêreld was wel teen Apartheid gekant, maar het nog nooit beweer dat ons as

volk nie onsself mag regeer nie. Onder Apartheid was die reg om onsself te regeer op ons

Wit rasse-afkoms gegrond, en in die proses het Blankes ook oor ander rasse regeer. Maar

jy kan nooit selfbeskikking eis op ‘n rassebasis nie. Net volke het ‘n reg op selfbeskikking –

nie rasse nie.

9. Wat is ‘n volk?

‘n Volk is ‘n groep mense wat so lank met mekaar saamwoon en ondertrou, dat hulle

eerstens ‘n gemeenskaplike afkoms en tweedens ‘n unieke lewenswyse ontwikkel het wat

hulle van enige ander groep mense onderskei.

10. Hoe verskil “volk” en “ras”?

‘n Ras word gevorm deur mense met ooreenstemmende liggaamskenmerke. So is daar

byvoorbeeld ‘n Swart ras en ‘n Blanke ras. Binne een ras kry jy egter ‘n klomp verskillende

volke, en volke word gevorm deur mense wat, behalwe dieselfde liggaamskenmerke, ook

nog dieselfde kultuur (dit wil sê lewenswyse en waardes) uitleef. Saam met ander volke

soos die Duitsers, Nederlanders en Franse is ons volk deel van die Blanke ras. Net so is

daar verskillende volke (soos Zoeloes, Sotho’s en Swahili’s) in die Swart ras.

11. So die ding wat volke van mekaar onderskei is “kultuur” – maar waaroor gaan kultuur

presies? Is kultuur regtig so belangrik?

Alles wat nie onaangeraakte “natuur” is nie, is “kultuur”. Kultuur gaan dus oor veel meer as

taal, baard dra en tradisionele danse. Die uitstaande kenmerk is taal; maar dit gaan ook

oor lewenswyse, waardes en standaarde op alle terreine soos onderwys, godsdiens,

regspraak, die wyse waarop families en gesinne georden word, musiek,

wetenskapsbeoefening en tegnologie, etiek (wat is “reg” en “verkeerd”?), ekonomiese- en

politieke norme en instellings - om maar enkele sake te noem. Dit gaan dus nie daarom

dat een volk “beter” of “slegter” as ander volke is nie, maar dat volke so ANDERS van

mekaar is. En omdat hulle so anders is, verskil die behoeftes wat volke van ‘n Regering

het. Dit is prakties onmoontlik vir een Regering om meerdere volke se uiteenlopende behoeftes in een staat met skaars hulpbronne te probeer bevredig deur wetgewing

waarin almal geakkomodeer word. DIT is hoekom ons nie deur ander volke of rasse

volgens hulle waardes en kulture regeer kan word nie - of dit nou spierwit Swede of

pikswart Xhosa’s is. Daarom is die enigste oplossing dat volksgemeenskappe wat

dit wil, toegelaat MOET word om hulle eie gebied te bewoon en te regeer. En dit is

presies ook hoekom die beginsel van selfbeskikking internasionaal erken word.

12. Nou hoe word besluit wie is deel van ‘n volk en wie nie? Kan ‘n Kleurling byvoorbeeld deel

van die Afrikanervolk wees?

Volke is dinamiese mens-groepe met samestellings wat gedurig verander – reeds omdat

volkslede heeltyd natuurlik afsterf en gebore word. Maar ook omdat volk-lidmaatskap

vrywillig is: Kleurlinge of Franse of wie ookal kan besluit om hulle los te maak van die volk

waarin hulle gebore is en probeer om by ‘n vreemde volk of bevolking aan te sluit. Die

vraag is dan nie “hoe” om te besluit of hulle deel van die nuwe “aanneem-groep” kan wees

of nie, maar “wie” daaroor besluit. Slegs ‘n beoogde “aanneem-volk” self kan besluit om ‘n

nuwe aankomeling aan te neem of nie – net soos ‘n ouerlose kind nie sommer op ‘n dag

by ‘n sekere ouerpaar kan aankom en “eis” om deur hulle aangeneem te word nie.

Zoeloes, Boere, Indiërs of watter ander volk ookal het almal die reg om ‘n nuwe

aankomeling te verwerp en as dit die oorwegende reaksie is, kán so aankomeling bloot nie

lid van die beoogde “aanneem-volk” wees nie. As die nuweling aan die ander kant deur

verreweg die meerderheid van ‘n volk in die algemene handel en wandel aanvaar en

opgeneem word in sy geledere, dan word hulle deel van die volk. Net die volk self kan dus,

deur goedkeurende- of afkeurende gedrag, aandui wie van elders af welkom in die volk is

en wie nie. Geen instansie of individu kan hulleself ‘n uitspraak daaroor aanmatig nie – die

volk se “uitspraak” daaroor word slegs oor tyd en met die voordeel van terugskouing

waargeneem. Dit lei tot die vraag hoe mens so-iets vir onmiddellike doeleindes in ‘n

spesifieke geval kan vasstel. Die enigste uitspraak wat namens die volk in so geval

gemaak sal kan word, is een wat op ‘n meningspeiling gegrond sal wees.

13. So ons het die reg om onsself te regeer omdat ons ‘n kultuur het wat uniek in die wêreld

is?

Presies.

14. Al woon ons as ‘n Blanke volk op die Swart kontinent van Afrika?

Ja – ‘n mens se velkleur bepaal nie watse politieke regte jy op ‘n sekere vasteland het nie;

dit sou tog erg rassisties wees, nie waar nie? Selfs die EERSTE generasie Swartes wat na

die Wit kontinent Europa uitwyk, durf allermins as “setlaars” in Europa beskou of hanteer

word. Ons is al eeue lank in Afrika: 136 jaar langer as wat Blanke Australiërs in Australië is

en amper 200 jaar langer as wat wit Nieu-Seelanders in Nieu-Seeland is. Ons taal en

ander uniekheid van ons kultuur is in Afrika gevorm. In Afrika se grond lê die bloed wat

ons voorouers hier vir vryheid gestort het. Nee wat - ons is net so inheems aan Afrika as

enige Swart Afrika-volk en ons het presies dieselfde regte as hulle; ook die reg op

selfbeskikking en onafhanklikheid..

15. Wat van Afrikaanssprekendes wat maar tevrede is met die “reënboognasie” – hoe kan die

ander selfbeskikking namens hulle eis of namens hulle praat?

Ons wat die reg op selfbeskikking uitoefen, kan nie namens hulle praat nie – en net so min

kan hulle praat namens ons. Hoe lank in elk geval voordat hulle emigreer – of volledig met

die res van die “reënboog” integreer? Ons eis selfregering net namens onsself, en gun die

“reënboognasie” Afrikaanssprekendes hulle Swart Regering. Dis glad nie so unieke

situasie nie: Noord-Ierland bly donkiejare al tevrede onder vreemde gesag terwyl ander

Iere lankal hulleself regeer in die Ierse Republiek net langsaan. En terwyl daar miljoene

Sotho's en Swazi's in Suid-Afrika woon, bestaan daar volkstate soos Lesotho en

Swaziland vir Sotho's en Swazi's wat hulleself wil regeer.

16. Maar die klomp Boere-Afrikaners wat wel selfbeskikking eis kon ook nog nie saamstaan

nie?

Omdat swak antwoorde gebied was op die vrae wat hier gevra word. Omdat godsdiensstrydvrae

by politiek betrek word. Omdat mense nie op die sentrale beginsel van

selfregering alleen gefokus was nie, maar elkeen sy eie Groot Plan probeer maak het oor

hoe die ideaal gerealiseer moet word. Vryheid hang nie van “Die Slim Vooruitgemaakte Plan” af nie. Vryheid is die uiteinde van ‘n reis; en die talle besluite wat op die roete self

geneem moet word weens rotsstortings, onverwags-droeë fonteine en oorstromings is

bloot nie vooruit te sien nie – net soos die heerlike vergesigte ook nie. Daarom is dit

sinneloos om te verwag dat almal nou oor ‘n Volmaakte Plan moet saamstem of anders

beskuldig te word “dat niemand kan saamstaan nie”. Die belangrike is dat elkeen wat oor

die blote beginsel van selfregering saamstem, saam die eerste tree op die pad na vryheid

moet gee.

17. En wat is hierdie eerste tree?

Die volk moet vir hom verteenwoordigers verkies deur sy eie vry, regverdige en

demokratiese verkiesing te hou. Die verkiesing moet plaasvind op die basis dat hierdie

verkose verteenwoordigers ‘n opdrag of “mandaat” van die volk ontvang om sy reg op

selfbeskikking op te eis.

18. Kan die eis nie in ‘n Hof hier plaaslik of internasionaal, soos by die Internasionale

Geregshof in Den Haag, ingestel word nie?

Nee. ‘n Hof kan ons nie verder bring as ‘n uitspraak oor die blote beginsel van

selfbeskikking nie (dus, ‘n reg erken wat ons reeds het) want ‘n Hof kan geen besluite

neem oor die praktiese implikasies wat noodwendig ter sprake kom by die afdwing van

ons reg op selfbeskikking nie. Buitendien bepaal die Suid-Afrikaanse Grondwet dat

selfbeskikking deur nasionale wetgewing hanteer moet word. Ons eis sal dus nie deur

howe nie, maar deur die wetgewende gesag (Parlement) en uitvoerende gesag (kabinet)

hanteer moet word. En die Internasionale Geregshof in Den Haag is net toeganklik vir

Regerings van state – nie vir volke wat hulleself nie regeer nie.

19. Hoe gaan die volk sy eie vry, regverdige en demokratiese verkiesing gehou kry en mag

ons so verkiesing hou?

Om vryheid te herwin is ons eie verantwoordelikheid – niemand anders s’n nie. Daarom

sal ons self so verkiesing moet reël. Teen hierdie agtergrond was daar ‘n ope

volksvergadering gehou op 21 Julie 2007 in Pretoria, waartydens mense uit verskeie

volksgerigte organisasies aanwesig was en besluit het dat die volk verteenwoordigers vir

hom moet verkies wat ons selfbeskikking-eis kan stel en beding. Daar is verder besluit dat

‘n struktuur op die been gebring moet word wat die verkiesing van sulke

volksverteenwoordigers moet reël en administreer en die basis waarop dit sal plaasvind,

moet vasstel in ooreenstemming met Suid Afrikaanse- en Internasionale Reg en ook in lyn

met ander vereistes en kriteria van internasionale organisasies soos die Verenigde

Nasies. Daar is dus niks “duister” of geheim aan die hele proses nie en alles word in

volkome openheid binne die wet gedoen.

20. Is daar toe so ‘n fasiliterende struktuur op die been gebring en indien wel: is dit ‘n projek

van ‘n ander organisasie of opereer dit onafhanklik?

Tydens ‘n ope opvolg-vergadering in Pretoria op 18 Augustus 2007 is wel so ‘n

fasiliterende struktuur verkies en dit staan bekend as die Volksraad Verkiesing Kommissie

– kortweg praat ons sommer van “die Kommissie” of die “VVK”. Die samestelling van die

Kommissie is buigsaam en brei uit na gelang van behoeftes en hulp wat aangebied word.

Die bestuur daarvan word hanteer deur ‘n Sentrale Komitee met die persone wat op 18

Augustus 2007 verkies is as basis; maar dit word steeds aangevul deur mense wat hulp

aanbied. Die lede van die Kommissie is nie “leiers” of “volksverteenwoordigers” nie – bloot

net instrumente wat die proses om sulke mense verkies te kry, moet reël volgens die

vereistes hierbo genoem. En nee, die Kommissie is gladnie ‘n projek van enige ander

organisasie of aan enige ander organisasie verbonde nie; dit funksioneer volkome

onafhanklik. Die Kommissie staan in diens van die volk alleen en sy lede (die wat

aanvanklik per volksvergadering verkies was en ook die wat gereeld nog by die

Kommissie en sy werksaamhede aansluit) is slegs in individuele hoedanigheid by die

Kommissie betrokke. Ingevolge sy Grondwet, opereer die Kommissie in die vorm van ‘n

vrywillige vereniging sonder wins-oogmerk.

21. Hoekom word die liggaam wat die volk gaan verteenwoordig ‘n “Volksraad” genoem?

Gaan daar partye in so Volksraad wees?

Dit is politieke tradisie onder die Boere om ‘n Volksraad – ‘n Raad van die Volk –

demokraties uit individue in ons midde te kies en nie uit politieke partye nie. In so ‘n Volksraad is die gesag van die volk beliggaam wanneer die volk nie ‘n volksvergadering

hou en self direk besluit oor ‘n saak nie. In die Boere-Republieke was Volksrade egter

altyd onderworpe aan die besluite van die volk self, soos onder andere geneem op

volksvergaderings. Daarom kon die volk daardie tyd nie deur sy leiers in die rug gesteek

word nie. In teenstelling daarmee het daar later (toe ons die Boere-Republieke verloor het)

‘n stelsel van politieke partye gekom. Ons bittere ondervindings van verraad deur politieke

partye is bewys daarvan dat ons na ons oorspronklike stelsel moet terugkeer waarin die

volk nie deur partye nie, maar deur individue verteenwoordig moet word wat aanspreeklik

is teenoor niemand anders nie as net teenoor die volk self. Die eerste Volksraad is al in

1836 deur die Boere wat onder Britse bewind weggetrek het, gekies.

22. Voorheen is gepraat van “Afrikaners” en nou weer “Boere” – is ons nou Afrikaners of

Boere?

Die naam “Boere” het ontstaan as verwysing na ons onafhanklik-gesinde voorouers wat

uiteindelik die Kaap met sy Britse Bewind laat vaar het en die Boere-Republieke Transvaal

en Vrystaat gevestig het. Ná ons neerlaag in 1902 is die ere-naam “Boer” waarskynlik met

opset deur opeenvolgende Suid-Afrikaanse Regerings stilweg onder die mat ingevee ten

gunste van die begrip “Afrikaner” - die naam waaronder Afrikaanssprekendes wat met die

Groot Trek in die Kaap agtergebly het, ook heeltyd bekend was. Vandag herleef die erenaam

“Boer” al meer in ons volk se harte en word beide name “Boer” en “Afrikaner” deur

volksgenote wat onafhanklikheid voorstaan, gebruik om hulleself mee aan te dui. Daar kan

nie toegelaat word dat hierdie verskillende name, wat op grondvlak ook nog as ‘n

wisselvorm gebruik word, tot tweespalt in ons geledere lei nie. Daarom staan die

Volksraad Verkiesing Kommissie in diens van alle volksgenote wat selfbeskikking eis; en

laat dit aan die individu self oor om die volksnaam te gebruik waarmee hy of sy tevrede is.

23. Die Kommissie het duidelik ‘n reuse taak en ‘n groot hoop werk. Het hy die vermoë om dit

uit te voer?

Die Kommissie moes geweldig baie werk doen om uitvoering aan sy opdrag te begin gee

en baie werk lê nog voor. Gelukkig is daar mense wat hulle tyd, energie en kundigheid,

wat op alle terreine deurgaans benodig word, ruimskoots beskikbaar stel om hand by te

sit. (Dit sal puik wees as jy dit ook wil doen – dis immers JOU Kommissie ook! Kontak ons

by ons besonderhede; jou hulp sal beslis altyd welkom wees). Die eerste stap was om ‘n

Grondwet vir die Kommissie self op te stel; en ook moes die volle agtergrond van- en die

beginsels wat tot ontstaan van die Kommissie gelei het, verduidelik word; sy program

uitgewerk en op skrif gestel word. Dit alles het antwoorde op vrae geverg waaroor ons volk

dekades al wroeg. ‘n Gedragskode is ook as deel van die Kommissie se Grondwet

opgestel om te verhoed dat enkelinge die werk van die Kommissie, en in die proses die

volk se saak, kan benadeel. Infrastruktuur moes gevestig word (en moet aldeur aangevul

word), ‘n perseel moes gevind word waarvandaan die Kommissie bedryf kan word, vorms

soos byvoorbeeld die Aansoekvorm om registrasie as kieser moes ontwerp word, ‘n

webwerf moes op die been gebring word en sagteware moes ontwikkel word waarmee

kiesers op die kieserslys geregistreer kan word.

24. Nou wat is die stappe wat die Kommissie volg om sy taak uit te voer?

Eerstens doen manne en vroue aansoek om as kiesers deur die Kommissie geregistreer

te word op die Kommissie se kieserslys. Die aansoeke word op die Kommissie se vorm

“Aansoek om Registrasie as Kieser” gedoen (Vorm 1). Hierdie vorms kan van die

Kommissie se webwerf afgelaai word of by Registrasie Beamptes of lede

van die Kommissie bekom word. Kyk onder “Registrasie-prosedure” op ons webwerf of

skakel die Kommissie om die besonderhede van jou naaste Registrasie Beampte te

verkry, sodat laasgenoemde jou behulpsaam kan wees. Tweedens is ‘n Lys van Kandidate

opgestel uit name wat deur kiesers as Volksraad-kandidate genomineer was tussen 1

Maart 2010 en 31 Mei 2011; laasgenoemde synde die sluitingsdatum vir nominasies.

Derdens sal die verkiesing self plaasvind op 23 en 24 September 2011.

 

25. Is daar enige vereistes

waaraan mens moet voldoen om aansoek te kan doen om as

kieser geregistreer te word?

Ja – jy moet 18 jaar of ouer wees, sonder ‘n hofbevinding van geestesongesteldheid wat

nog van krag is, en verklaar dat jy lid van die volk is en die beginsel van selfregering vir die volk onderskryf. As die Kommissie ‘n aansoek ontvang en vermoed dat ‘n aansoeker

hierdie verklarings valslik maak, word die aansoek aan ‘n paneel van die Kommissie

voorgelê, wat die aansoek kan goedkeur of afkeur. Aansoeke moet ook totaal vrywillig

wees en ‘n kieser wat so voel kan enige tyd sy of haar naam van die Kommissie se

kieserslys laat verwyder.

26. Moet ‘n Volksraad-kandidaat aan ouderdoms- of ander kwalifikasies voldoen?

‘n Geregistreerde kieser word in ‘n Nominasie-vorm (Vorm 3) deur ‘n ander geregistreerde

kieser as Volksraadslid genomineer. Kandidate moet minstens 25 jaar oud wees sonder ‘n

vorige veroordeling vir diefstal, bedrog of seksuele misdrywe en mag nie tot ‘n organisasie

behoort waarvan lidmaatskap geheim is nie. Die Nominasie-vorm moet deur die kandidaat

onderteken word ter bevestiging daarvan dat hy of sy die nominasie aanvaar en hom of

haar neerlê by die beginsels waarop die verkiesing gehou word soos in die Nominasievorm

uiteengesit. Verder moet die nominasie op die Nominasie-vorm gesekondeer wees

met die handtekeninge van een honderd ander stemgeregtigde kiesers. Die naam van die

genomineerde word deur die Kommissie op die Lys van Kandidate ingeskryf. Kandidate

kan uiteraard by ander organisasies betrokke wees, maar sal uitsluitlik in individuele

hoedanigheid aan die verkiesing deelneem.

27. Kan een kieser meerdere kandidate nomineer?

Ja – solank elke kandidatuur deur honderd verskillende sekondante gesekondeer word.

28. Hoe word ‘n kandidaat uiteindelik verkies en vir hoe lank?

Op stemdag meld ‘n kieser met sy- of haar Suid Afrikaanse- of ander identiteitsdokument

aan by ‘n stempunt. Die kieser se identiteit word dan geverifieer en sodra ‘n stembrief (wat

genommer sal wees) aan die kieser uitgereik word, word teenoor die persoon se naam op

die kieserslys aangeteken dat hy of sy gestem het. Op die stembrief kom die name van die

kandidate in alfabetiese volgorde voor en die kieser stem vir die kandidate deur ‘n kruis

agter die naam van elke kandidaat te maak wat die bepaalde kieser as Volksraadslid

verkies wil hê. ‘n Kieser kan vir maksimum sewe van die kandidate stem. Die sewe

kandidate wat die meeste stemme op hulle verenig, sal tot die Volksraad verkies wees –

ons eerste Volksraad sonder politieke partye sedert 1902. Volksraadslede sal aan die volk

op die kieserslys en aan hulle alleen aanspreeklik wees. Hulle sal vir ‘n termyn van drie

jaar verkies word en herkiesbaar wees. Die kandidaat wat die heel meeste stemme kry sal

outomaties deur die volk as voorsitter en woordvoerder van die Volksraad verkies wees.

Plaaslike of internasionale liggame wat belang mag stel, sal welkom wees om die vry en

regverdige aard van die verkiesing as waarnemers te moniteer.

29. Wat doen die Volksraad dan - hoe verloop die proses verder en waar sal ‘n gebied vir

selfregering geïdentifiseer kan word?

Die verkose Volksraad beskik nou oor ‘n mandaat om die volk se reg op selfbeskikking op

te eis en die praktiese implementering daarvan te beding. So gou moontlik nadat dit

verkies is, eis die Volksraad namens die volk dus van die Suid-Afrikaanse Regering ‘n

bevestiging dat laasgenoemde in beginsel bereid is om praktiese beslag aan ons reg op

selfregering te gee in ‘n gebied (wat voorlopig nie omskryf hoef te word nie) ooreenkomstig

die Grondwet van Suid-Afrika, deur ‘n proses van onderhandelde skikking. Dit gaan eers

dus net om daardie beginsel. As die Regering wel daartoe bereid is, tree die Volksraad

met hulle in onderhandeling wat betref tydskale, die ligging en grootte van so ‘n gebied,

moontlike oorgangsmaatreëls in die lig van die huidige bevolkingsamestelling van so

gebied, en enige ander implementering-aspekte wat op hierdie stadium voortydig is en juis

deur die Volksraad onderhandel en beding sal moet word. Ligging en grootte van die

gebied sal ook afhang van hoeveel volksgenote op selfbeskikking mag aangedring het

deur as kiesers te registreer, waar hulle oorwegend woonagtig sal wees, en talle ander

aspekte wat nie nou vooruit voorsienbaar is nie. Tydens sy onderhandelings sal die

Volksraad egter nie oor ‘n “blanko tjek” beskik om sommer enigiets wat die Regering mag

aanbied, te aanvaar nie. Die Volksraad sal telkens volksvergaderings moet belê

waartydens voorstelle wat die Regering mag maak, aan die volk voorgelê word vir ‘n

volksbesluit deur middel van meerderheidstem.

30. En as die Regering nie bereid is tot so ‘n onderhandelde skikking nie?

Dan meld die Volksraad aan die internasionale gemeenskap (byvoorbeeld aan individuele state wat belang het by suider-Afrika, en aan die Verenigde Nasies, die UNPO of enige

ander relevante internasionale liggaam) die volgende: Dat ons ingevolge die Suid-

Afrikaanse Grondwet ‘n reg op territoriale selfbeskikking het en dat die Regering hierdie

bepaling van sy eie Grondwet (en daarmee saam ook hierdie regte van ons) vertrap; dat

ons regte ingevolge die Volkereg, talle internasionale verdrae van die Verenigde Nasies

en ander liggame ook daarmee geminag word; en dat hierdie internasionale rolspelers

versoek word om die dispuut te bemiddel; vir doeleindes van ‘n skikking.

31. En as die internasionale gemeenskap nie wil ingryp nie, of deur die Regering toegelaat

word om dit te doen nie, of dit nie suksesvol deurgevoer kry nie?

Dit is te betwyfel of niemand hoegenaamd gaan reageer nie. Maar ook al gebeur dit so -

alle verwikkelinge sal deur die Volksraad aan volksvergaderings voorgelê word en die volk

sal besluit wat hom dan te doen staan, alle omstandighede op daardie stadium in ag

genome.

32. Sê nou die volk word wéér deur sy leiers in die rug gesteek?

Dit sal nie weer kan gebeur nie. By aanvaarding van hulle amp, sal die Kommissie in

naam van die volk ‘n ampsbelofte aan Volksraadslede voorhou waarin hulle hulleself

onomkeerbaar aan die beginsel van ons onafhanklikheid en selfbeskikking verbind. En

indien die oortuiging op enige stadium tydens ‘n Volksraadslid se termyn ontstaan dat hy

die selfbeskikkingstrewe ondergrawe op watter manier ookal, kan ‘n mosie van wantroue

in so Lid of Lede deur minstens 500 kiesers op die Kommissie se kieserslys by die

Kommissie ingedien word. ‘n Wantroue-debat waaraan enige stemgeregtigde sal mag

deelneem, word dan deur die Kommissie belê en indien die wantroue-mosie aanvaar word

deur minstens 51% van alle stemgeregtigde aanwesiges, skryf die Kommissie ‘n

tussenverkiesing uit om die betrokke Lid of Lede met ander te vervang.

33. Alles dalk goed uitgedink, maar dit klink nog steeds of daar ‘n wonderwerk sal moet

gebeur.

Natuurlik sal dit ‘n wonderwerk wees. Genadiglik sal dit nie die eerste keer wees ook nie -

ons bestaan is vol van die God van die Bybel se wonderwerke en dis net te danke

daaraan dat ons hoegenaamd nog hier is. Sommiges meen dat ons tans so verdruk word

omdat Hy ons straf. Die Kommissie weet egter van niemand wat hulle kan aanmatig om

sulke eerstehandse kennis te hê van dit wat tans in God se gedagtes sou omgaan nie. Die

Kommissie kan hom ook nie ophou met voorskrifte oor allerhande dogma van hóé mense

in Hom behoort te glo nie. Wat ons wel weet is dat ons nie Sy hulp moet verwag as ons te

sleg is om onsself te help nie. Laat ons daarom doen wat ons hand vind om te doen maar

juis ook nie nalaat nie om elkeen die saak met sy Skepper uit te maak. Ons weet nie wat

op die vryheidspad voorlê nie maar ons weet dat wanneer ons volk ookal bymekaar is, hy

sal erken dat die pad alleenlik te loop is sáám met die God van Bloedrivier en Majuba.

                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                  

Mag ons tot eer van Sy Naam ook hierdie keer verlossing ontvang.