Volksraad Verkiesing Kommissie

 

‘n Nuwe konstitusionele bedeling

22 Maart 2017

 

As enigiemand nog getwyfel het oor die ANC-regering se houding oor plaasaanvalle en die moorde op boere, het verlede week (14 Mrt)  se debat in die parlement alle onsekerheid daaroor uit die weg geruim.

Die uitlatings van ANC-parlementslede dat nog meer boere doodgemaak en dat boere lewendig begrawe moet word, weerspieël die gesindheid wat in daardie geledere heers. As verteenwoordigers van die regerende party nie skroom om sulke verregaande dinge in die openbaar te sê nie, verg dit geen verbeelding om te raai wat hulle onder mekaar sê waar die openbare oor hulle nie hoor nie. Dié gesindheid verklaar die politieke onwil van die ANC-regering om daadkragtig op te tree ten einde hierdie aanvalle hok te slaan.

Bogenoemde houding en die aanhoudende propaganda dat die blankes die swartes se grond gesteel het; dat blanke grond sonder kompensasie onteien moet word; en Zuma se sang tydens die ANC eeufeesvieringe in Bloemfontein op 8 Januarie 2008 “Shoot the Boer... We are going to shoot them with the machine gun” is alles onmiskenbare getuienis van uiterste vyandigheid en aggressie teen die witman.  Die geweld en terreurveldtog wat die ANC voor 1994 teen die blankes gevoer het en wat Mandela geweier het om af te sweer, word dus eenvoudig voortgesit.

Elke staat beskik oor instrumente om die burgery te beskerm, naamlik die wetgewende mag, die polisie en die regswese, maar  hierdie regering span dié instrumente soms in téén die  deel van die burgery wat hy haat, naamlik die Boere-Afrikanervolk, of hy versuim om dit effektief aan te wend om hulle te beskerm.

Die optrede van die regering klop met die Kommunistiese leerstelling dat die staat en sy instrumente nie neutraal en bokant die politiek staan nie, maar inteendeel die wapens is van die nuwe heersende klas, die proletariaat. Volgens dié opvatting is die onderwys, die media en die kansel wapens van oorrediing; terwyl die wetgewing, polisie, gewapende magte en die regswese wapens van dwang is. (Douglas Hyde, Dedication and Leadership, Learning from the Communists).

Vir die Boere-Afrikanervolk spel die teens­woor­dige bedeling geestelike, kulturele en fisiese vernietiging. Ons ondervind dit telkens wanneer een van ons uit haat vermoor word, wanneer ons taal en kultuur geminag word, of wanneer  tenders en aansoeke vir poste afge­wys word net omdat die aansoekers wit is.

Die grondwetlike beskerming van die volk se kultuurregte, waarop sommige nog hulle vertroue stel, is op 21 Julie 2017 deur die Grondwethof nietig verklaar met die uitspraak dat “any reliance by white South Africans, particularly white Afrikaner people, on a cultural tradition founded in history finds no recognition in the Constitution” (Case CCT 157/15, City of Tshwane Metropolitan Municipality vs Afriforum); en pas het die SA Menseregtekommissie bevind dat Zuma se ongegronde stelling dat blankes die swartes se grond gesteel het, “is unlikely to cause the serious and significant hurt or harm to white persons as required by the law, and it is further unlikely to promote or prapagate hatred. On this basis the Commission is unable to find that the statement in question constitutes hate speech(brief SAHRC-A.E. Breytenbach, 8 Mrt 2017).

Die 23 jaar van die huidige konstitusionele bedeling is een lang verhaal van agteruitgang en mislukking. Rasseverhoudinge is slegter as ooit in die geskiedenis, en die toenemende vyandigheid en wantroue tussen etniese groepe en rasse word met hofuitsprake en nuwe wette onderdruk en toegesmeer ten einde ‘n skyn van “nasieskap” te bewaar.

Die denkbeeld van ‘n “reënboognasie” is pure wensdenkery, en al die gegorrel oor “eenheid in verskeidenheid” en “verskeidenheid in eenheid” is ‘n klomp kaf. Die Boere-Afrikaner­volk verskil  geestelik, kul­tu­reel en fisies van die ander volke in Suid-Afrika, en ons sal nie transformeer of integreer om soos hulle, of een met hulle te word nie.

         Wat dringend nodig is, is ‘n nuwe konsti­tu­sio­nele bedeling vir Suid-Afrika — een wat die realiteit van verskillende volkere erken en voorsiening maak dat die wat wil, hulleself regeer. Dit kan nog vreedsaam geskep word, maar gebeur dit nie, sal die teësin in en vyandigheid teenoor mekaar toeneem totdat dit vanself ‘n plofpunt bereik.


Andries Breytenbach  

Voorsitter / Chariman