Volksraad Verkiesing Kommissie

 

GELOFTEFEES-REDE TE PAARDEKRAAL 

16 DESEMBER 2009
- Paul Kruger

Deur die nag van 15 Desember 1838 stroom die barbaarse Groot Wit Olifant se regimente een vir een aan, van regoor Natal, na ‘n enkele punt: Na die plek waar ‘n diep sloot by die Ngome-rivier aansluit en 64 kakebeenwaens in die vorm van ‘n halfmaan aan mekaar vasgeketting staan. In die stikdonkerte kan hulle glad nie gesien word deur die klein klompie burgers wat deur hulle omsingel is nie. Maar hulle kan gehoor word teenaan die laer. Hoe klink ‘n oorlogdans deur die mistige duisternis heen - as 15 000 assegaaie met een slag die skildvelle slaan en 15 000 voete die grond met een slag tref? Hoe klink die oorlogskreet uit 15 000 bloeddorstige kele deur die duisternis heen, as jy met ‘n wapen sit wat 3 skote per minuut kan vuur maar op daardie oomblik heel moontlik sal weier, omdat die kruit nat geword het weens die mis wat alles omsluit? 

En die belangrikste vraag van alles: Hoekom trotseer ‘n mens dit? Hoekom is jy op daardie oomblik vrywillig daar – omring deur soveel angs en onheil? Hoekom het jy, toe die angs en die onheil op die Oosgrens-plaas te veel geword het om te verduur, nie eerder ‘n klerk of ‘n ambagsman geword en in ‘n huis in Uitenhage of in Swellendam gaan woon nie? Hoekom het jy nie eerder ‘n voorman op ‘n wynplaas in die Boland gaan word nie? Hoekom het jy nie eerder na Europa of Amerika of Australië toe geëmigreer nie? Hoekom weerstand en verset, in stede van om rustig saam met die stroom te vloei? Wat maak ‘n mens, as daardie stroom op pad is na die rioolplaas van Satan? Vele burgers in die laer daardie nag se voorgeslagte moes daardie vraag bykans 2 000 jaar al beantwoord 

Want in die Alpe-gebiede van Suid-Europa, het die mense gou reeds ná die Hemelvaart van Christus die blye boodskap aanvaar dat die Messías se Bloed op Gólgota gevloei het sodat ons met die Vader versoen kan raak - en hulle het ook van die begin af gewaak dat die Geloof suiwer gehou word. Reeds in 441 n.C. het hulle in Orange, ‘n stad in Suid-Frankryk, ‘n Sinode gehou waarop weerstand gebied is teen dwalinge wat tóé al die Rooms-Katolieke Kerk binnegesypel het. Teen 600 n.C. het die Pous die sogenaamde “ketters” se geskrifte laat verbrand en die Roomse Kerk het hulle wreed begin vervolg. En eerder as om hulle suiwer Christelike geloof te verloën, het duisende mense die afgeleë bergspitse en valleie van die Alpe ingevlug; en mettertyd bekend geraak as die “Waldense” - die “Mense van die Valleie”. Meer as 10 eeue lank is die Waldense deur die Katolieke lewendig verbrand, verwurg, lewendig begrawe. In die Luberon-gebergte is vroue nakend met hulle kindertjies van kranse afgegooi; ledemate is op pynbanke vermink; oë is met warm ysters uit hulle kaste gebrand… maar niks kon die Waldense beweeg om hulle suiwer geloof te verraai nie.

Teen die tyd dat Maarten Luther die Kerkhervorming in 1517 begin het, was die Waldense se stryd teen die Katolieke reeds ‘n duisend jaar aan die gang en hierdie weergalose bewakers van die Geloof was toe opgeneem onder die Franse Protestante - die “Hugenote”. Terselfdertyd word die prinsdom Orange geërf deur “Willem die Swyger” – wat vorstedomme ook in Nederland besit. Willem se titel “Willem van Oranje” verwys na niks in Nederland nie – dit verwys na sy Suid-Franse prinsdom Orange, en so ook stam die oranje baan bo-aan Willem se vlag uit Orange. En onder daardie Oranje-Blanje-Blou, seil 3 Nederlandse skepe Tafelbaai in 1652 binne. Drie eeue later kom Daniël Francois Malan, ‘n afstammeling van die Waldense, in 1948 in Suid-Afrika aan bewind onder die Oranje-Blanje-Blou.

Dieselfde D.F. Malan wat vandag presies 60 jaar gelede die Voortrekkermonument in Pretoria op 16 Desember 1949 geopen met een van sy opsienbarendste toesprake ooit: Afrikaner – quo vadis? Waar gaan jy heen? As Malan daardie vraag 60 jaar gelede kon vra toe ons op die vooraand was van die grootste magsopbou wat ons ooit geken het – wat moet ons vandag sê? Noudat ons saam met Jeremia kan weeklaag dat ons erfdeel na vreemdes oorgegaan het, ons water drink ons vir geld, ons hout kom teen betaling in, ons is afgemat sonder dat daar aan ons rus gegun word, niemand ruk ons weg uit die hand van die knegte wat oor ons heers nie, met lewensgevaar bring ons ons brood in, ons vroue word onteer?

‘n Paar dae gelede in Pretoria is daar weer ‘n vrou in die fleur van haar lewe verkrag deur ‘n barbaar wat daarop aangedring het dat sy hom “meneer” moet noem tydens die walglike tragedie. Dan is daar sogenaamde Christen-geestelikes wat, net soos in Jeremia se dae, die verbreking van die dogter van my volk op die maklikste manier genees deur te sê “vrede, vrede!” terwyl daar geen vrede is nie! Terwyl dit selfs vir die dwaasste mens duidelik moet wees dat daar geen versoening is nie, al noem hulle 16 Desember die sogenaamde versoeningsdag! Hulle kan daaroor lieg soveel hulle wil - al word ‘n leuen miljoen kere herhaal bly dit steeds ‘n leuen.

Malan het gevra: Waar gaan jy heen? Ek wil u vandag uitnooi: Kom huis-toe. Kom, Boere-Afrikaner volk, huis-toe. Watter huis? Waar is daardie huis, sal u vra? Ja, inderdaad. Waar is “huis” vir ons? Ons het nie ‘n huis nie, want van die “huis” wat ons sewe maal tussen die 9de en die 15de Desember 1838 aan God belowe het, is daar weinig tekens. Tussen die 9de en die 15de Desember 1838 het ons volk ‘n aanbod van kontrak aan die Almagtige God van Hemel en Aarde gemaak. Ons het nie bloot ‘n Gelofte afgelê nie – ons het met God gekontrakteer: Ons wou van God ‘n sekere prestasie gehad het en in ruil daarvoor, sou ons iets anders presteer. Wat wou ons van Hom hê? Eenvoudig – Hy moes ons teen alle redelike verwagting in die uitredding en oorwinning skenk. Dit is ook presies wat Hy gedoen het.

Wat presies het ons in ruil daarvoor aan Hom getender? Dis hier waar die kleitrappery begin. Kom ons kyk na die bewoording van die Gelofte-weergawes want daar’s nie een nie maar drie weergawes: Die bekende bewoording wat steun op die weergawe van Charl Celliers wat destyds voorgegaan het met die aflegging van die Gelofte. Dan is daar die weergawe van Andries Pretorius wat die grootste inspirasie agter die oorspronklike idee skyn te wees. En dan is daar die weergawe van Jan Gerritze Bantjes wat as Pretorius se Sekretaris die Bloedrivier-ekspedisie meegemaak het en die amptelike relaas daarvan opgestel het wat ook later deur die Volksraad van Natalia goedgekeur is.

(Soos aangehaal in “Lewe van Andries Pretorius” - Dr. Gustav S. Preller, 1937, bl. 36-37)
Celliers: “ ,, als Hij met zijne beskerming met ons zal wezen, en onze vijand in onze handen zal geven, dat wij hem overwinnen, wij die dag en datum elk jaar als 'n verjaardag en 'n dankdag, zoals 'n Sabbat in Zijne eer zullen doorbrengen; en dat wij het ook aan onze kinderen zullen zeggen, dat zij met ons erin moeten delen, tot gedachtenis ook voor onze opkomende geslachten.”

Jan Gerritze Bantjes: “ - om zo de Heere ons de overwinning geven mag, 'n Huis tot Zijn grote naams gedachtenis te stichten, alwaar het hem zal behagen; en dat zij ook moesten afsmeken de hulp en bijstand van God, om deze gelofte zeker te kunnen volbrengen; en dat wij de dag der overwinning in 'n boek zullen aantekenen, om dezelve bekend te maken aan onze laaste nageslachten, opdat 't ter ere van God gevierd mag worden.”  

Andries Pretorius: “......Verder wens ik Ued. ook ter kennisse te brengen, dat wij alhier onder elkanderen besloten hebben om de dag onzer overwinning, zijnde Zondag, de 16e dezer maand December, onder ons ganse geslacht te doen bekend worden, en dat wij het aan de Heer willen toewijden en vieren met dankzeggingen, zoals wij voordat wij tegen de vijand streden, in 't openbaar gebed beloofd hebben; zo ook dat, zo wij de overwinning verkrijgen mogen, wij den Heere tot Zijns naams gedachtenis 'n huis stichten zullen, alwaar Hij ons zulks aanwijzen zal; welke geloften wij nu ook hopen te betalen met de hulp des Heeren; nu Hij ons gezegend en onze gebeden verhoord heeft.”

Uit hierdie weergawes kan ons die volgende twee punte saamvat:

Eerstens - Ons het belowe dat ons die dag en datum van die oorwinning aan die Here sal toewy en daardie dag deur die volgende geslagte ter ere van God gevier sal word;
Tweedens - Dat ons vir God ‘n huis sal stig tot gedagtenis aan Sy groot Naam – nie op enige plek na ons goeddunke nie; maar waar Hy ons sal aanwys om dit te doen.

Die algemene interpretasie is nou dat ons 16 Desember soos ‘n sabbat moet vier en dat die tweede deel van ons onderneming nagekom is toe die Geloftekerkie in Pietermaritzburg gebou is.

Die vraag waarby ons vandag stilstaan is die volgende: Het ons ons deel van die kontrak met God nagekom deur die bou van die “Geloftekerk” in Pietermaritzburg – of waar (of eerder dalk: wat) is die Huis wat ons aan God belowe het?

(Aanhaling uit: “ 'n Volk se hulde” - gepubliseerde Meestersgraad-verhandeling deur O.J.O. Ferreira, Perskor-uitgewery, 1975, bl. 226-229)
“..'n Argivale ondersoek van ds. C.W.I. Pistorius het hom tot die gevolgtrekking laat kom dat die Voortrekkerkerkie in Pietermaritzburg nooit as die werklike Geloftekerk bedoel en beskou is nie. Hy het dus gehoop dat 'n nuwe Geloftekerk wat sy gemeente van voorneme was om te bou, as kleiner Voortrekkermonument beskou sou word.

Op 'n vergadering van die S.V.K. (Sentrale Volksmonumente Komitee – skrywer) in Kaapstad op 20 Januarie 1947 is melding gemaak van die opspraakwekkende bevindinge in verband met die geskiedenis van die Voortrekkerkerkie in Pietermaritzburg. Mnr. C.M. Booysen het naamlik verwys na die argivale ondersoek deur ds. C.W.I. Pistorius wat aan die lig gebring het dat die Voortrekkerkerkie in Pietermaritzburg nooit as die werklike Geloftekerk bedoel en beskou is nie.

Die S.V.K. het gevoel dat hier 'n uiters belangrike saak aangeroer word wat met groot versigtigheid en kalme raad behandel moes word, en daarom het die S.V.K. dit raadsaam geag om eers nader ondersoek te laat instel. Die S.V.K. het dus besluit om dit aan proff. H.B. Thom en S.P. Engelbrecht op te dra om op koste van die S.V.K. ondersoek te gaan instel na die geskiedkundige juistheid van ds. Pistorius se bevindinge en hulle te versoek om 'n verslag van hulle ondersoek binne die verloop van 'n jaar by die S.V.K. in te dien.

Die standpunt van ds. Pistorius, dr. A.J. Du Plessis en die Kerkraad van die Voortrekkergemeente in Pietermaritzburg was dat die Voortrekkerkerkie (of -museum) deur die Voortrekkers destyds nie as hulle eintlike Geloftekerk gebou is nie, maar dat hulle dit as tydelike geboutjie bedoel het wat later, wanneer die nodige fondse beskikbaar sou wees om die werklike Geloftekerk op te rig, in 'n pastorie omskep moes word. Vanweë die Engelse anneksasie en die gevolglike vertrek van die meerderheid van die Voortrekkers uit Natal, het hierdie plan egter nooit werklikheid geword nie en is die eintlike Geloftekerk ook nooit gebou nie. Die Kerkraad het gepoog om 'n sekere stuk grond in Pietermaritzburg, Langmarkstraat 33, wat die Volksraad oorspronklik vir die ware Geloftekerk opsy gesit het, terug te kry ten einde die gebou dan daarop te bou. Hierdie standpunt het ds. Pistorius en dr. Du Plessis met aanvoering van historiese getuienisse gesteun.

Hierdie mening is egter deur verskeie persone bestry wat verklaar het dat die Gelofte reeds na behore nagekom is; dat die huidige Voortrekkermuseum in werklikheid geen tydelike kerkgebou was nie; dat die Voortrekkers dit wel as hulle Geloftekerk beskou het en dat dit ook vandag nog so beskou moet word.

Prof. Thom het tot die volgende gevolgtrekking gekom: “Alles in aanmerking geneem, moet ons dus tot die gevolgtrekking kom dat die ou kerkie, die huidige Voortrekkermuseum, die ware Geloftekerk van die Voortrekkers was; dat hulle dit so beskou het en dat ons dit vandag ook nog in die lig moet sien.”

Prof. Engelbrecht het sy verslag met hierdie woorde afgesluit: “My vaste oortuiging is dat die Voortrekkers die Gelofte uitgevoer het en die Geloftekerk gebou het, sodat daar dus geen blaam of klad op hul nagedagtenis rus nie.”

Erf nommer 33 is deur die Voortrekker-Volksraad vir die Kerkraad opsy gesit om later daar 'n kerkgebou op te rig. Deur ongelukkige versuim is dit egter nooit op naam van die Kerkraad getransporteer nie, en toe dit by die Briste besetting van 1842, volgens vereiste, nie 'n voorafgaande jaar bewoon was nie, is dit verbeurd verklaar.

Ek vra u vandag, liewe Volksgenoot: as die Huis van die Gelofte wel die Geloftekerkie in Pietermaritzburg is, hoe verklaar ons die volgende notules van die Volksraad van Natal? (soos gepubliseer in “Voortrekker Wetgewing”: Notule van die Natalse Volksraad 1839-1845, J.L. Van Schaik Bpk., Pretoria, 1924)

29 September 1840: “ - Door de Commissaarissen gevraagd aan den Raad om van het kerke fonds onder hunne toeversigt in leen te hebben om de begonne pastorie er mede te voltooijen, dat voor het eerst tot een Godsdienstig gestig zal gebruikt worden het welk door den Raad is toegestaan; de Commissarissen die gevraagd hebben zyn de heeren A.W.J Pretorius, J.J. Burger, H.P.N. Pretorius en Sarel A. de Cilliers.”....

7 Januarie 1842: “Besloten dat het huis alwaar tans de publieke godsdienst ingehouden word met het erf No. 34, Lange Mark Straat, alhier in eigendom is afgestaan aan de Kerk en is verder besloten dat intekenings gelde dat reeds is ingekomen tot opbouwing van een nieuwe kerk, zal in handen gesteld worden van den Kerkeraad oor de commissarissen als by vorige gelegendheid daar toe door den Raad aangesteld tot verdere voltooiing van dat gebouw alsmede de lysten van intekeningen om verder uitstaande gelden te kunnen invorderen, tot gebruik aan dat gebouw, waar onder het gebouw en erf zal verbonden blijven wanneer dat geld in vervolg mag worden opgeischt.”

8 Januarie 1842: “Gelezen een rekwest, gedateer 23 Decembr. 1.1. ondertekend door W.J. Pretorius en nog 71 andere burgers, versoekende om de daar in aangehaalde reden, dat geen publiek grond aan dit dorp toebehorende, zo verre als de dorpslynen weivelden etc. zich uitstrekken, meer zal worden vergund aan eenig persoon, nog verkogt verhuurd of op enige andere wijze over gedisponeerd, maar zal worden geschonken en afgestaan in een erfgrondbrief, als het wettig eigendom van de landeigenaren binnen gemelde grond woonagtig of land bezittende, en zulks voor hun gezamentlyk gebruik en voor algemeen en publieke einde.
Is besloten het gem. Versoek toetestaan, met uitzondering van de Gouvernements erven No.17 en in Pieter Mauritzstraat, benevens alle de andere in de reeds geformeerde plan van dit dorp afgemerkte erven, straten, waarover het Gouvernement exclusievelyk zal mogen disponeren eksept die erven tans het plein uitmakende, zynde van No.26 tot 35 Lange Markstraat, die mede zullen begrepen zyn in de gemelde erfgrondbrief; en verder onder voorwaarde, dat wanneer eenig gedeelte van dat vergund grond tot publieke einde zal benodigd zyn, of wanneer het gemeen belang zal vorderen dat eenig gedeelte daar van zal worden verkogt verhuurd vergund of op eenig andere wijze gedisponeerd zulks zal moeten geschieden met toestemming van twee derde deel der landeigenaren als voormeld in eene publieke byeenkomst door hun te worden gehouden.

Gevolgtrekking:

Eerstens: Die geboutjie wat later as die “Geloftekerk” bekend geraak het, was deur die Natalse Volksraad self ‘n “begonne pastorie” genoem en ‘n plek wat “vireers tot ‘n Godsdienstige gestig” gebruik sou word.

(Dat daar hoegenaamd so ‘n plek sou moes wees - Gelofte of nie - is duidelik: die mense sou iewers tog kerk-byeenkomste moes bywoon).

Tweedens: Nêrens verwys die Natalse Volksraad na daardie gebou of enige ander beplande een as die Huis van die Gelofte nie.

Derdens: Terwyl sommige navorsers, soos aangehaal hierbo, wel toegee dat die “Geloftekerk” nie die beloofde Huis is nie maar dat laasgenoemde kwansuis later op Erf 33, Lange Markstraat opgerig sou word, is dit duidelik dat Erf 33 (as deel van Erf 26-35) nooit deur die Volksraad van Natal beplan was as die plek waar ‘n uiteindelike Geloftekerk tot stand sou kom nie want op 8 Januarie 1842, 4 jaar na die Gelofte, verklaar die Volksraad dit tot deel van grond wat bloot vir algemene publieke doeleindes opsy gesit word.

Daarbenewens: Andries Pretorius is 16 jaar na Bloedrivier eers oorlede en Celliers nog later; en nêrens verwys enigeen van hulle na die “Geloftekerkie” in Pietermaritzburg as die Huis van die Gelofte nie.

Ek vra weer: Waar is die Huis wat ons as tweede verpligting - naas die hou van ‘n feesdag - per kontrak aan die God van Hemel en Aarde getender het? Was die deelnemers aan die Slag werklik so skokkend troueloos deur uiteindelik nooit daarby uit te gekom het om ‘n fisiese “huis” te bou nie – of was die bedoeling dalk nooit om ‘n fisiese gebou te bou nie maar dat ons ‘n volkshuishouding vir God sou wees? Handelinge 7: “Maar die Allerhoogste woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie, soos die profeet sê: Die Hemel is my troon en die aarde die voetbank van my voete. Watter soort huis sal julle vir my bou, sê die Here, of hoedanig die plek van my rus?”

Die bakstene van die Huis van die Verbond van Bloedrivier moet in ons harte wees, en die vertrekke van daardie Huis moet ons gesinne wees - sodat ons volk die gebou kan wees. Sodat nie net onsself nie maar ook ons volk gebou is op die fondament van die apostels en profete, terwyl ons Messias self die Hoeksteen van ons volkswese is, in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here, in wie ons saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Heilige Gees. In só ‘n Huis, sal Hy by ons woning maak. Sement, steen en sand wat uit die grond uit kom is stom en dit kan ons tweede Verbondsverpligting teenoor die God van Bloedrivier nooit in der ewigheid nakom nie.

Daarom: laat ons Verbondshuis gebou word uit vertrekke wat deur ons gesinne gevorm word in die huise waarna ons vandag gaan terugkeer as ons hiervandaan weggaan. Die huise waarin u die vaders en moeders of kinders is.

Hoe is dit in DAARDIE huise gesteld? Pa – is jy nog die leraar, priester en koning in jou huis, en poog jy elke dag om daardie ampte en verantwoordelikhede waardig te wees – of gaan dit in die eerste plek vir jou eerder oor die welvaart en genietinge en die gemaksug (of die kwellinge) van die wêreld? Ma – is jy in alles nog jou man se trots en sieraad maar ook die hulp wat pas by die hoof van jou huis, soos jy veronderstel is om geskape te wees – of is jy te vas gewikkel in ‘n magspel met jou man om te kyk hoe ver jy hom kan manipuleer deur te doen en te laat staan wat jou pas? Kinders – is julle ouers se woord nog wet in die huis – of kyk julle hoe ver julle die grenslyne kan skuif om te kan doen wat ander kinders doen sodat julle saam met hulle kan wegsink in die afval van die wêreld? As dit so is – weet dat julle onder andere, ook nooit die Verbond van Bloedrivier kan nakom nie, die Huis van die Verbond nie bou nie – en as volk kontrakbreuk pleeg teenoor die Almagtige. Sal Hy ons in so ‘n toestand herstel uit die klaagliedere wat ons sing?

Laat die wat nog nie begin het nie, vandag nog begin om ons huise in orde te kry. En dan mag ons die vrymoedigheid hê om by die God van Bloedrivier uitkoms te soek vir die feit dat ons vryheid daarmee heen is. Nie in die eerste plek oor misdaad of die landadministrasie wat aan flarde is nie – ja dit ook. Nie in die eerste plek oor sportkwota’s nie. Nie in die eerste plek oor ons geldelike armoede of werkgeleentheidberowing nie. MAAR VERAL OMDAT ONS IN ‘N LAND MOET WOON WAARIN ONS GOD SE NAAM GELASTER WORD EN SY GEBOD SO GRUWELIK VERBREEK WORD.

Of wie is die “Nkosi” in Nkosi sikelel’ Afrika? Gaan vra die ANC of dit die God van Bloedrivier is. Die ANC met sy wette wat moord op ongebore babas toelaat en dobbelary en Sabbatsonheiliging en hoerery en ‘n duisternis ander Goddeloosheid. Die god van die sogenaamde “demokratiese Suid-Afrika” is alles behalwe die God van Bloedrivier. Hulle (af)god is die “nuwe” wêreldorde, en daardie “orde” staan vir alles wat wanordelik is – gemeet aan die Wette van die enigste God. In daardie “Orde” van die huidige Suid-Afrika en die res van die wêreld, word dit wat God saamgevoeg het geskei - en alles wat Hy geskei het word vermeng.

Is ons as Verbondsvolk nie veronderstel om onsself aan daardie “orde” van die nuwe (af)god te probeer ontworstel, om ons God te kan dien in 'n land waarin Sy Wette weer die oppergesag is nie? Hoe lank sal ons, verlore seuns, tevrede bly met die varkpeule van die huidige Suid-Afrika sonder om na die Huis van ons Vader terug te keer – sodat ons weer 'n huis tot eer van Sy Naam kan wees? Mag ons aanhoudend op ons louere sit met die flou en gerieflike verskonings dat alles so sal bly omdat ons nie kan saamstaan nie en “die volk” nie verootmoedig het nie? Bestaan “die volk” nie uit u en ek nie? En moet u en ek ons nie daagliks verootmoedig vir alles waarin ons aanhoudend van God se maatstaf afwyk weens ons gevalle sondige natuur nie?

Laat ons die volgende doen om terug te keer na die Huis van ons Vader, om vir Hom die huis te wees wat ons op 16 Desember 1838 beloof het:

1.Laat ons elkeen op ons eie seker maak dat daar geen beletsels in ons indiwiduele lewens oorbly wat ons vrymoedigheid om Hom vir ons volk se uitkoms te vra, belemmer nie.
2.Laat ons onthou om Hom altyd meer gehoorsaam te wees as enige ander gesag.
3.Laat ons die lewenskrag wat Hy ons geskenk het volgens die gesonde verstand en die gewete GEBRUIK OM TE WERK tot herstel van ons vryheid in 'n eie staat waarin Sy Woord weer Wet is en ons Hom in vrede en voorspoed kan dien. Bloedrivier het nie uit die lug geval nie – Bloedrivier was die uiteinde van 'n reeks Volksraadsbesluite. Van oudsher af was die sentrale meganisme van ons besluitneming oor ons eie toekoms 'n Volksraad gewees wat demokraties en sonder politieke partye deur die volk verkies is. So 'n liggaam bestaan meer as 'n eeu reeds nie meer nie – en solank dit die geval is, sal ons noodwendig rondmaal soos 'n klomp skape sonder om te weet waarheen en onder die illusie dat ons nie kan saamwerk nie. Laat ons daarom die inisiatief wat reeds geloods is om so 'n Volksraad gekies te kry, so spoedig moontlik deurvoer. En laat ons eindelik die huis oprig wat ons belowe het. Ons mag nie verder versuim nie.

Ek dank u.