Volksraad Verkiesing Kommissie

 

Huldeblyk aan Abel Albertus Malan

29 Julie 2016.

Teen middernag gisteraand het Abel Malan "vertrek van hier op reis na die ewigheid", om die woorde van die volksheld Jopie Fourie te gebruik.  

Omdat Abel nie net een van my strydgenote was nie maar ook ‘n groot vriend en vertroueling, het hy my een dag van ‘n insident uit sy vroeë lewe vertel wat nie algemeen bekend is nie. Hy het in ‘n restaurant gesit en agtergekom ‘n ander persoon kyk hom stip aan. Uiteindelik het die persoon na hom gekom en vir hom gesê dat hy eendag nog ‘n groot rol in sy volk gaan vervul. Dit was vir Abel baie vreemd, want hy was geensins polities aktief nie, en sou dit vir baie jare daarna steeds nie wees nie.  

Na die VVK gestig is, het niemand van ons die ondersteuners van ander organisasies probeer afrokkel, hulle databasisse in die hande probeer kry of hulle plaaslike strukture probeer misbruik vir ons eie doeleindes nie. In die winter van 2008 het ek die eerste keer as’t ware blindelings die pad gevat en die N4 snelweg ooswaarts gery. Ek is na individue verwys; weer en weer het ek die VVK-strategie aan hulle verduidelik in die dorpe op die ry af – Bronkhorstspruit, Machadodorp, Nelspruit, Pelgrimsrus, Hoedspruit, Phalaborwa, Tzaneen, Pietersburg, Potgietersrus, Warmbad.  

Die eerste dagskof het op Nelspruit geëindig. Geld was – soos altyd – skaars; en toe een van die Nelspruit-manne vra waar ek die aand gaan oornag, sê ek my slaapsak is juis in my voertuig. Hy wou niks daarvan hoor nie en ek was dankbaar vir die slaapplek in sy gastekamer. Sy naam was Abel Malan.  

Dit was die begin van ‘n besondere kameraadskap. Ek het gou besef Abel was een van ‘n uiters skaars spesie in hierdie volk: Iemand wat nie net "vryheid" gepraat het nie, maar wat bereid was om homself en sy alles daarvoor te gee. Ja, ook sy lewe. Die volk het begin glo dat daardie klas mens uitgesterf het saam met die Jopie Fouries en H.S. van Blerks van die lewe...toe kom Stellenbosch.  

Ons het oor dekades heen gesien dat daar eenvoudig niks heilig genoeg in ons volksbestaan is wat die Nuwe Wêreldorde-humaniste se afkrakery en verkleinering vryspring nie. Dat geen offer gebring vir vryheid te kosbaar was om die net van hulle bespotting en kritiek te ontsnap nie. Anton van Niekerk op Stellenbosch het die minagting van eeue-oue offers uitgebrei deur ook nog op die Grensoorlog-offers te trap. Dit was vir Abel Malan te veel - en die res is, soos hulle sê, geskiedenis.  

Die media se histerie oor ‘n paar houe en ‘n omgekeerde lessenaar op Stellenbosch het in die gesigte ontplof van hulle wat die VVK-inisiatief as net nog ‘n spul "radikalisme" probeer afmaak het. ‘n Volk het kennis geneem dat sy helde nie uitgesterf het nie, maar steeds as gewone mense tussen al die hoë verraad en rugstekery bly vasbyt; bly vashou aan dit wat deur eeue vir ons kosbaar was en is. ‘n Volk het besef dat Abel Malan oneindig meer met sy gebalde vuis wou beskerm, as wat hy daarmee wou vernietig. Registrasies op die VVK se kieserslys het met duisende toegeneem...en die voorspelling deur ‘n onbekende persoon in ‘n restaurant lank gelede, is bewaarheid.  

Hy het met trots op die Volksraad gedien, ‘n Volksraad wat nou in die peilvak is van die proses om die regmatige herwinning van ons vryheid moontlik te maak...wat ons ook kan bereik – MITS elkeen hand uitsteek, MITS elkeen help eerder as om te "passasier" of te kritiseer, MITS elkeen sy- en haar plig doen, MITS elkeen nie net praat oor die Vader se gebooie nie maar dit ook nakom!  

Die VVK salueer jou, Abel Albertus Malan. Jy is daar nie meer nie, maar jou offers en die nalatenskap daarvan, die bly altyd by ons. Soos duisende ander offers oor meer as drie eeue heen, verplig ook jou offer ons om dit in dankbaarheid aan ons Hemelse Vader te eerbiedig. Ja, nie net dit nie: Ook om daarop voort te bou. Sodat ons weer ‘n staat kan bewoon waar Sy Wet die Oppergesag sal wees...waar ons vry kan wees; nie in die eerste plek ter wille van ons eie behoeftes nie, maar tot eer en verheerliking van Sy Naam, op alle terreine van die lewe.

Aan Rina, Nerika en Marli: Ons dra julle op in gebed, in gereedheid om julle ontsettende verlies en beproewing te help verlig, op welke wyse dit ook al moontlik mag wees. Aan die Koning van alle Konings: "Ons nederige dank dat U hierdie man aan ons geleen het."  

Paul Kruger.