Volksraad Verkiesing Kommissie

 

Huldeblyk aan wyle

Etienne Jacobus le Roux

- deur Paul Kruger.

Die familie het versoek dat ek ‘n paar woorde sê by hierdie geleentheid; en ek wil terselfdertyd groete-boodskappe oordra van mense wat nie hier kan wees nie - in besonder van volksgenote wat in die gevangenis verkeer en saam met ons rou oor ons heengegane vriend en kameraad. Verder sou Mnr. Andries Breytenbach ‘n huldeblyk lewer namens die Volksraad; maar op pad hierheen was hy in ‘n motorongeluk betrokke. Hoewel hy gelukkig geen ernstige beserings opgedoen het nie, kon hy nie betyds by hierdie verrigtinge uitkom nie; en het hy my versoek om meelewing vanaf die Volksraad aan die familie oor te dra, met die versekering dat Etienne le Roux ‘n wesenlike rol in die Volksraad gespeel het wat diep gemis gaan word.

Soos elkeen van ons, het Etienne le Roux ‘n lewe gelei met vele fasette. Oor Etienne die vader, Etienne die beroepsmens en die sakeman kan ek nie veel sê nie. Maar ek glo diegene met eerstehandse kennis oor daardie fasette van sy lewe, sal kan bevestig dat dit klop met wat ek weet en wel kan sê oor Etienne die openbare figuur; Etienne die volksman.

In meeste mense se lewens (maar by uitstek in die lewe van elke idealis) vind daar op ‘n stadium sekere gebeure plaas, waarna ons kan terugkyk en sien dat dit wat in daardie vensterperiode gebeur het, uiteindelik ‘n versinnebeelding was van die betrokke mens se lewe en sy wese. Iets wat so uitstaan dat dit kenbeeld en simbool van daardie menselewe geword het.

In Etienne le Roux se geval staan die jaar 1994 uit - die jaar toe hy in aktiewe opstand gekom het teen ‘n verraaier-Regering wat die verlies van ons land en ons vryheid bewerkstellig het. Opstand teen ‘n owerheid, hetsy dit slaag of nie, is altyd iets wat grense trek- veral tussen mense. Daar is altyd diegene wat ten gunste daarvan is, en ander wat daarteen gekant is. Oor sulke opstand en diegene daarby betrokke, kry ons dus altyd uiteenlopende sienswyses.

Perspektief oor hierdie onderwerp word gebring deur een van die grootdenkers wat ons volk opgelewer het; naamlik die digter, skrywer en akademikus N.P. Van Wyk Louw. Terwyl hy nagedink het oor die Rebellie van 1914, het Van Wyk Louw hierdie gevleuelde woorde gespreek:

“Opstand is net so noodsaaklik in ‘n volk as getrouheid. Dit is nie gevaarlik dat ‘n rebellie misluk nie – wat gevaarlik is, is dat ‘n hele geslag sonder protes sal verbygaan”.

Van Wyk Louw beskou opstand dus as kern-noodsaaklik, ook al is daar dikwels dood en verwoesting by betrokke. Dit beteken geensins dat ons wil vernietig ter wille van vernietiging nie. Want, in die woorde van die Franse kolonel De Villebois-Mareuil wat ons voorouers tydens die Tweede Vryheidsoorlog kom bystaan het en self met sy eie lewe daarvoor betaal het:

Doodvan die indiwidu op die slagveld bewaar die lewe van ’n volk. Ons wil met die swaard eindeloos meer bewaar, as wat ons daarmee wil vernietig”.

Dus, met die tipe wapengeweld wat Christelik-verantwoordbaar is wil ons - nie uit haat nie maar uit liefde – alles bewaar in ‘n krisis-uur wat vir ons kosbaar is, en onder kritieke bedreiging verkeer: Ons weerlose dierbares; ons norme- en waardestelsel; ons lewens- en wêreldbeskouing...ons vryheid. Want ‘n suiwer liefde vir vryheid, is liefde vir ander. ‘n Mens met ‘n liefde vir mag, het liefde net vir homself.

Uit jarelange interaksie met hom, kan ek in alle waarheid en eerlikheid getuig dat Etienne le Roux nooit mag en aansien vir homself gesoek het nie, maar vryheid. Want hy het die vryheid en almal wat dit saam met hom gesoek het, lief gehad. En soos die groot Vrystaatse President Steyn, het ook Etienne le Roux besef: As ons dit werd is om onafhanklik en vry te wees, dan is die onafhanklikheid en die vryheid ook werd om verdedig te word.

In die vroeë 1990’s, met die skrif aan die muur vir ons vryheid, was bitter min mense saam met Etienne bereid om die wapen vir ons onafhanklikheid op te neem. Terwyl ons na ‘94 se slagpale gelei is, was die Dirkie Uyse; Louw Wepeners; Danie Therons; Jopie Fouries en H.S. van Blerks van die lewe baie dun gesaai in hierdie volk. Maar hulle was DAAR; en Etienne le Roux was onder die voorstes wat gesorg het dat niemand vandag kan sê nie: ‘n Geslag het in 1994 verbygegaan sonder opstand. Niemand kan beweer dat hierdie volk sonder slag of stoot gekapituleer het nie. En Etienne Jacobus le Roux het die dure prys wat dit hom gekos het, dapper en blymoedig betaal.

Daarom was dit gepas dat duisende volksgenote in 2011 sy uitsonderlike menswees en volksdiens erken het, deur hom te kiesas Lid van die Volksraad. Hy was sy leiersposisie in alle opsigte waardig – soveel so, dat talle van ons met sy afsterwe die gevoel het van ‘n onvervangbare verlies wat gely word.

Etienne, ou kameraad: Ons salueer jou vandag met altwee hande. Jy het altyd gesê: “die lewe is ‘n lied!” en dat jy in die paradys is hier aan die Suidkus. Ek is seker die liedere en die paradys wat jy voortaan ervaar, gaan ook die heel beste wat jy op hierdie ou wêreld beleef het, ver oortref...

Foto's van Etienne se begrafnis kan besigtig word onder die "Plakboek"-skakel.